Categories: NewsPublished On: 27th April 2011

Karoo se water vir eers veilig

By 1 min read

Die Kabinet het die besluit van die Departement van Minerale Hulpbronne om ‘n moratorium op die ontginning van skaliegas deur hidrouliese breking (fracking) in die Karoo te plaas, bekragtig. Die moratorium is deur Agri SA aangevra ter beskerming van die waterbronne in die waterskaars gebied.

Die President van Agri SA, Johannes Möller sê die moratorium is aangevra in afwagting op die bevindinge van die Verenigde State van Amerika se ondersoek wat tans deur hul Omgewingsbeskermingsagentskap (USEPA) gedoen word oor hidrouliese breking en die gevolge wat dit vir die omgewing kan inhou.

Volgens mnr Möller kan die landbou in die Karoo dit nie bekostig om aan onsekere skaliegas-ontwikkelingsprosesse blootgestel te word wat ekonomiese oorlewing en die lewensgehalte van landelike gemeenskappe in gedrang kan bring nie.  “Die beskikbaarheid en kwaliteit van ondergrondse waterhulpbronne is die lewensaar van die gebied”, sê mnr Möller.

Hy het verder die vertroue uitgespreek dat die regering met dieselfde omsigtigheid te werk sal gaan in ander gebiede in Suid-Afrika waar skaliegas-ontwikkelings met dié metode beplan word.

Hy sê: “Ons sal graag as ‘n belangegroep ingesluit wil word in die verteenwoordigende span onder leiding van die Departement van Minerale Hulpbronne wat navorsing gaan doen oor die implikasies van hidrouliese breking.”

Daar bestaan groot kommer dat die ondergrondse waterbronne besoedel of uitgeput kan raak deur die proses.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0