Categories: NewsPublished On: 15th December 2016

Kareedouw se boere wen NWKV-toekenning

By 2 min read
389 words
NWKV

img_3884-nwkv

Die Bennie van der Merwe Wisseltrofee word sedert 1999 toegeken aan die NWKV-beplanningskomitee wat die meeste gedoen het ter bevordering van winsgewende wolskaapboerdery.  Hierdie jaar het die Zuuranys Boerevereniging en studiegroep op Kareedouw, Oos-Kaap, met die louere weggestap.

Die Zuuranys Boerevereniging se plase dek die hele area tussen die Tsitsikamma-bergreeks en die Baviaansberge, in die landboustreek tussen Humansdorp, Patensie, Kareedouw en Joubertina.  Hulle het tydens die een-jaar evaluasietydperk, 5 reproduksie studiegroepbyeenkomste gehou waar ramvoorbereiding & -prikkelvoeding, kuddegesondheid, lamvoeding en kruipvoer, bestuur van ooie in die laaste derde van dragtigheid en kondisiebepaling behandel is. Augustusmaand is spandeer aan ooivoorbereiding en -prikkelvoeding, bestuur van ooie en ramme tydens paring terwyl die onderwerpe van veldbestuur en veldbrand in Novembermaand aangespreek is.

‘n Boeredag waar dr Jasper Coetzee oor presisievoeding en lamstelsels gesels het, was ‘n dagboekhoogtepunt en ‘n slagysterkursus vir jagters en plaaswerkers is deur roofdierspesialis, Niel Viljoen, aangebied.  Drie deelnemers is deel van die ekonomiese studiegroep waar ‘n boer se ekonomiese syfers ontleed word en hy dienooreenkomstig raad ontvang. Prieur du Plessis van Laagte, Kareedouw, het sy plaas beskikbaar gestel as ‘n demonstrasieplaas en die deelnemers het ‘n Jongooiveiling gehou om geld in te samel vir die jagklub, wat ook die dienste van ‘n voltydse jagter geniet.

Voorwaar ‘n dinamiese groep boere met ‘n wenresep van goeie beplanning, toepaslike en interessante groepbesprekings, samehorigheid en ‘n eenvormige visie vir winsgewende  wolskaapboerdery in ‘n ideale wolskaap landboustreek met taamlik wisselvallige reënval.

NWKV-bestuurslid en deelnemer, Niel Du Preez, sê die Zuurveld wolskaap lewer deurgaans ‘n bogemiddelde kwaliteit wol met hoë opbrengste en hulle skaaptjops word hoog aangeskryf as die smaaklikste en geurigste in die land.

Niel praat met groot lof van dr Louis du Pisani se aansteeklike geesdrif en wye boerderykennis, wat hom die ideale landbouleier onder produsente maak.  Sy nuttige kruipvoer- en koggelramkonsepte het hierdie jaar ‘n groot bydrae gemaak en is prakties toegepas deur menige deelnemers.  “Louis word wyd onder lede aanvaar as een van die sterktste meningsvormende landbouraadgewers in die land,” sê Niel.  Dr Du Pisani is die NWKV se nasionale bestuurder vir produksie-advies en ontwikkeling en speel ‘n fasiliterende en adviserende rol binne die studiegroep.

Foto:

Agter van links na regs – Niel du Preez, Chris Herselman, Louis Botha, Henco du Plessis, Henri du Plessis en Daan du Plessis.  Voor –  Dr. Louis du Pisani en Selwyn Jonker

Bron: NWKV

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0