John Deere wys toekomsgerigte oplossings by NAMPO 2026

WhatsApp Image 2026-05-26 at 15.37.14
Tydens NAMPO vanjaar het John Deere weereens gewys waarom die handelsmerk diep gewortel bly in die Suid-Afrikaanse landboubedryf. Met ’n indrukwekkende uitstalling van nuwe tegnologie, verbeterde toerusting en presisie-oplossings, was die fokus duidelik op verbeterde produktiwiteit, slimmer boerdery en beter operateursgerief.
Vir John Deere het die positiewe ingesteldheid van boere by NAMPO sterk uitgestaan.
NAMPO is vir John Deere die plek waar jy die stemming van die boere kan bepaal, en dit was lekker om gelukkige boere by hulle uitstalling te verwelkom.
Die tema van John Deere by NAMPO vanjaar was: “Diep gewortel, met egte waarde” – ’n boodskap wat die maatskappy se geskiedenis én toekomsvisie mooi saamvat. ‘n Visie waarop hulle graag sal wil voortbou deur die nuutste tegnologie na Suid Afrika te bring.
’n Paar hoogtepunte en nuwe toevoegings
John Deere het vanjaar verskeie nuwe produkte en opgraderings aan boere bekend gestel. Van die opvallendste masjinerie was die nuwe 3E- en 3EN-reeks trekkers (36 tot 41 perdekrag) wat ontwerp is vir kompakte werksomgewings waar doeltreffendheid en veelsydigheid noodsaaklik is.
Boere kon ook die opgegradeerde 5090E van nader besigtig. Die opgedateerde 5090E (90 perdekrag) trekker bied verbeterde hyserkapasiteit, verskillende laaigraafkonfigurasies en JDLink-gereedheid wat beter konnektiwiteit en vlootbestuur moontlik maak.
Nog ’n groot trekpleister was die nuwe F8- selfaangedrewe kuilvoerkerwer wat toegerus is met ’n JD14X- 13,6 liter-PowerTech-enjin en HarvestMotion-tegnologie. Hierdie kombinasie dra by tot verbeterde brandstofdoeltreffendheid, beter kuilvoergehalte en verhoogde operateursgerief.
Presisieboerdery het ook sterk aandag geniet tydens vanjaar se skou. John Deere het weer sy 24 ry- DB44-planter uitgestal wat toegerus kan word met MaxEmerge 5E- of ExactEmerge-ryeenhede, asook individuele hidrouliese ry-afdrukbeheer. Met SeedStar 5-monitering en JDLink-integrasie kan boere plantprestasie in reële tyd vanaf ’n mobiele toestel of tablet monitor.
Tegnologie en data-gedrewe boerdery is nie meer ’n luuksheid nie, maar ’n noodsaaklikheid vir moderne boere. Presisieboerdery is die pad vorentoe.Om meer met minder te produseer en John Deere wys vir boere wat hierdie tegnologie reeds doen en watter resultate dit lewer. Die gespesialiseerde John Deere span staan ook altyd by om vir boere te wys hoe hierdie oplossings hulle boerderye kan verbeter.
John Deere het ook gewys hoe bestaande toerusting met nuwe tegnologie opgegradeer kan word deur middel van Performance Upgrade Kits vir planters van ses tot 16 rye. Dit stel boere in staat om ouer planters met moderne planttegnologie toe te rus sonder om noodwendig ’n nuwe planter aan te skaf.
Hoewel die nuwe 8R- en 8RX-hoë perdekrag-trekkers eers vanaf volgende jaar beskikbaar sal wees, het hulle reeds groot belangstelling gelok. Die trekkers lewer tot 634 pk (473 kW) en beskik oor ’n elektries-veranderlike transmissie.
Benewens die indrukwekkende toerusting en uitstallings het besoekers ook verskeie praatjies en inligtingsessies by die John Deere-standplaas bygewoon, waar produkspesialiste en fabriekverteenwoordigers meer gedeel het oor nuwe ontwikkelings, tegnologie en die maatskappy se toekomsvisie.

Besoekers aan die John Deere-standplaas het waardevolle kennis opgedoen tydens inligtingsessies waar produkspesialiste en verteenwoordigers van John Deere die nuutste tegnologie en toerustingontwikkelings bespreek het.
Dankie aan ons boere
John Deere is gefokus op die Suid Afrikaanse landbou en die boere wat hierdie bedryf aan die gang hou, hulle is dankbaar vir hul kliënte se volgehoue ondersteuning en vermoë om vooruit te beplan ondanks uitdagende omstandighede. ‘n Boer maak ‘n plan en saam met John Deere maak die Suid Afrikaanse boere reeds planne vir more.