Categories: News, WheelsPublished On: 1st December 2015

Isuzu brei gewilde KB-modelreeks verder uit

By 3 min read
565 words

Binneruim van KB 300 LX Extended Cab Handrat

Die Isuzu KB bakkie is al so eie Suid-Afrikaans soos biltong, braaivleis en rugby. Die KB is tans beskikbaar in 100 lande en is onder meer gereeld die topverkoperbakkie in byvoorbeeld Thailand, wat tans die wêreld se grootste eentonbakkiemark is.

Die sesde geslag van die gewilde bakkiereeks is al ‘n tydjie met ons, maar General Motors SA, wat Isuzu in Suid Afrika versprei, het teen die einde van die derde kwartaal vanjaar drie goedbeplande modelle by die reeks gevoeg om die modelreeks tot altesaam18 verskillende bakkies te vergroot. Terselfdertyd is verskeie opgraderings en verbeteringe aangebring om die werkesel nog meer oemf en aantrekkingskrag te gee.

Ons het onlangs ‘n week lank twee van die nuwe toevoegings bestuur en was aangenaam verras met die verbeteringe.

Die nuwe topmodel in die reeks is nou die KB300D-Teq LX 4×4 dubbelkajuit outomaties en ons het ‘n pragtige rooie onder hande gehad.

Die topmodel word aangedryf deur Isuzu se beproefde en ekonomiese 3,0 liter 4- silinder turbodieselenjin en dryf deur ‘n nuwe vyfspoed outomatiese ratkas na al vier wiele. Die KB300 bakkies is tans die segmentleiers met sleep- en vragvermoë en ek het maklik met ons toetsmodel 2,5 ton teen uitdagende steiltes uitgesleep.

Buitekant is daar nuwe LUD-dagryliggies asook LUD-liggies in die remligte agter.

Sleutellose toegang en aan-/afskakeling is ook standaard aan die nuwe topmodel.

Die binneruim vertoon aansienlik meer modern met die raakskerm in die voorpaneel. Die stelsel huisves al die klank-, voertuig- en ritinligting, asook die Bluetooth-telefoonskakeling. Verder is daar ook ‘n gebruikersvriendelike satellietnavigasiestelsel en ‘n DVS-speler geïntegreer. Die beelde vanaf die trukamera word ook op die skerm vertoon. Die sitplekbekleedsel is van leer.

Ek is nie ‘n groot voorstander van ‘n outomatiese ratkas aan ‘n bakkie nie, maar moet toegee dat die vyfgang-outokas se ratskakeling heerlik glad was, wat bygedra het tot gemaklike verrigting. Die paddinamika van die nuwe KB300LX dubbelkajuit 4×4 outomaties het my beïndruk. Die groot voertuig het gerieflik gery en ook gemaklik in stadsverkeer hanteer.

Ons tweede toetsmodel was ‘n pragtige kobaltblou KB300LX DTeq 4×4 Extended Cab handrat. Die sitplekke is met ‘n duursame materiaal beklee. Ek verkies die lapbekleedsel bo die leer, maar dit is maar my persoonlike smaak. Dieselfde drieliter, viersilinder dieselturbo-enjin as in die topmodel word ook in die Extended Cab ingespan. Die enjin lewer nou 130kW @ 3 600 opm en 380 Nm wringkrag tussen 1 800 en 2 800 opm.

Die vier wiele word via ‘n vyfganghandratkas aagedryf. Vir albei modelle is daar ‘n ronde selekteerknop agter die ratkierie tussen die sitplekke waarmee viertrek in hoë- en laestrek gekies kan word. Die stelsel werk uitstekend.

Isuzu sê die amptelike brandstofverbruik vir albei hierdie viertrekmodelle is 7,9 ℓ / 100 km in ‘n gemengde siklus van dorp- en ooppadry. Albei die voertuie kan 3500 kg sleep. Die dubbelkajuit dra 1 021 kg vrag en die Extended Cab ‘n rapsie meer op 1 083 kg.

Standaardveiligheidstoerusting aan albei modelle sluit onder meer sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, elektroniese stabiliteitsbeheer, lugsakke vir bestuurder en voorste passasier en parkeerhulp in.

Pryse soos getoets

KB 300 D-TEQ LX 4×4

R451 800

KB 300 D-TEQ LX 4×4 Outo

R529 700

Alle Isuzu KB-modelle word verkoop met ‘n omvattende 5-jaar / 120 000 km waarborg en padbystanddiensprogram asook ‘n 5-jaar / onbeperkte kilometer anti-roeswaarborg asook ‘n ‘n 5-jaar / 90 000 km diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km / 12 maande vir al die onderskeie modelle in die reeks.

Ons toetsmotor is skoongemaak deur die vriendelike mense by AutoCare Weskus, Skoolstraat, Vredenburg. Hulle telefoonnommer is 022-713-3301.

Ultimate Drive

Artikel geskryf deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0