Hinterland Wesselsbron is die eerste van vele megalandbouwinkels
Met die huidige verstedelikingsproses sukkel plattelandse dorpe om te oorleef en enige nuwe ontwikkelinge in klein dorpies blaas ’n positiewe gees oor die platteland.
Die moderne alles-onder-een-dak kompleks wat Hinterland op 22 Oktober in Wesselsbron geopen het, stel ‘n nuwe standaard in landboukleinhandel. Dit is meer toeganklik en bied meer ondersteuning aan kliënte.
“Hinterland se R25-miljoen-belegging in Wesselsbron bied aan ons kliënte ‘n volledige pakket van insette om produkte en dienste op ‘n sentrale punt te vind en bevestig dat ons glo in die toekoms van die platteland en die landbou,” het Frans du Plessis, Hinterland se besturende direkteur, tydens die opening gesê.
In die verlede moes Wesselsbron se boere by verskeie persele aandoen om hulle aankope te doen. Die nuwe vlagskipkompleks, wat meer as 5 400 vierkante meter beslaan, bied ‘n tuiste vir die kleinhandel-tak, onderdele-afdeling, werkswinkel, vulstasie en winkel – alles mooi bymekaar. Hoewel die meganisasie-afdeling nie deel is van die Hinterland-regsentiteit is nie, word dit steeds geïntegreerd, maar deur ‘n afsonderlike, gefokuste struktuur bestuur. Al die bogenoemde afdelings bied ’n geïntegreerde eenstopdiens vir kliënte.
WH van Zyl, ‘n jarelange boerekliënt van Wesselsbron, het by die opening ‘n boodskap namens die kliënte oorgedra. “Hierdie is werklik ‘n eenstopdiens, want alles is mooi bymekaar. Die ontwerp van die gebou is baie gerieflik en prakties – dit is eintlik ‘n monument vir Wesselsbron. Vir ons as kliënte is dit baie voordelig dat Hinterland in plattelandse dorpe belê, “het hy gesê.
Dit het 15 maande geneem om die bouwerk aan die projek te voltooi. Die gebou spog met ‘n omgewingsvriendelike ontwerp en boustyl wat lei tot die optimale benutting van natuurlike lig en ventilasie. Reënwater vanaf die dakke word in tenks versamel om later gebruik te word om trekkers by die wasplek skoon te maak.
Die Hinterland Senwes Village in Wesselsbron is die eerste van ‘n aantal operasionele eenhede wat in die moderne, toeganklike styl opgradeer gaan word. Hinterland doen vanuit 60 operasionele eenhede oor die oostelike en westelike graanproduserende gebiede van Suid-Afrika sake. Konstruksiewerk vir die opgradering van die Hinterland Senwes Village in Hoopstad is reeds goed op dreef.
Een van die grootste konsolidasietransaksies in die Suid-Afrikaanse landbou het plaasgevind toe Hinterland sestien maande gelede deur die samesmelting van AFGRI en Senwes gevorm is.
Hinterland se strategiese plan is om die voorkeurverskafferskanaal vir die boer te wees.