Categories: NewsPublished On: 23rd June 2017

UP help met wêreldnavorsing oor bakteriese siektes

By 2 min read
298 words
UP

UP 23

Die Universiteit van Pretoria (UP) het ‘n vennoot geword in die TROPICSAFE-projek, ‘n inisiatief om drie ekonomies belangrike bakteriese siektes by sitrusplante, wingerde en palmbome te bekamp.

Insekgedraagde siektes – spesifiek sitrusvergroeningsiekte of huanglongbing by sitrus, wingerdvergelingsiekte en dodelike vergeling by palmbome – bied ‘n groot uitdaging vir kwekers wêreldwyd, ook in Suider-Afrika.

TROPICSAFE is gemik op die ontwikkeling van instrumente en oplossings om die impak van hierdie skadelike siektes te verminder. Die €4 miljoen-projek word gefinansier deur HORIZON 2020, ‘n EU-navorsings- en innoveringsprogram.

TROPICSAFE betrek 22 toonaangewende akademiese instellings, vennote in die openbare sektor en produsenteverenigings, insluitende vier vennote uit Suid-Afrika. UP en die Universiteit van Stellenbosch bied kundigheid in plantpatologie, entomologie, genetika en biotegnologie, en PathoSolutions en VinPro het by die projek aangesluit as bedryfsvennote wat tegnologie-oordrag en vaardigheidsopleiding doen.

TROPICSAFE word deur die Universiteit van Bologna (UNIBO) in Italië gelei, met professor Assunta Bertaccini as koördineerder. Om hierdie projek van vier jaar af te skop, het Bologna ‘n vergadering by die Alma Mater Studiorum aangebied wat bygewoon is deur deelnemers uit 12 lande dwarsoor die wêreld: Suid-Afrika, Ghana, Italië, Spanje, Frankryk (insluitende Guadeloupe en Réunion), die Verenigde Koninkryk, Denemarke, Slovenië, Jamaika, Chili, Mexiko en Kuba.

“Dit is noodsaaklik om ons pogings te kombineer om navorsingsgapings te dek en vir kwekers ekonomies en omgewingsvriendelike bestuursinstrumente te bied om die siektes te bekamp wat ‘n ernstige uitwerking op sitrus-, wingerd- en palmproduksie het,” sê professor Kerstin Krüger van die Departement Dierkunde en Entomologie aan UP. Professor Krüger lei die navorsingspan aan UP, wat ook uit professor Gerhard Pietersen en studente bestaan.

Plaaslike plantbeskermingsorganisasies en boere sal daadwerklik deelneem as vennote, met deelname aan veldproewe, en sal die resultate demonstreer en benut.

‘n Webwerf met nuus en inligting oor TROPICSAFE sal binnekort beskikbaar wees.

Bron: Universiteit van Pretoria

0
Views: 283Comments Off on UP help met wêreldnavorsing oor bakteriese siektes

Deel hierdie artikel.

0