Categories: NewsPublished On: 29th September 2016

Gestremde skooldogter wen Engen se veteraanenjinoorbou-wedstryd

By 3 min read
570 words
Engen

engen-junior-wenners

Die junior wenners van links na regs, Nadine Gouws en haar broers Rudolf en Jaco van Klerksdorp in die derde plek, Gerick Muller van Mosselbaai in die tweede plek en die wenner, Jannie en Liezel Gouws van Klerksdorp met Paul Leask, Engen smeermiddels nasionale verkoopsbestuurder, M.J. Herbst van Bloemfontein in die vierde plek en agter hom, Johan Lourens met sy seun Barend van Bloemfontein wat vyfde was.

‘n Paralimpiese skool-atleet presteer nie net op die atletiekveld nie, maar bou ook enjins oor. Liezel Gouws van Klerksdorp was die junior wenner van Engen en die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraantrekker- en enjinklubs (SAVTEK ) se enjinrestourasie-uitdaging vir 2016.

Die kompetisie het die restourasie van ‘n stilstaande enjin van ouer as 30 jaar behels. Die wenners van die byeenkoms is by die Bloemfontein Familie Trekker- en Kosfees by die Ferrari Museum in Kwaggafontein, Bloemfontein aangekondig.

Liezel (17 jr) het die eerste plek in die junior-afdeling vir skoliere verwerf en het R20 000 ontvang. Sy het ‘n 1963 Wolseley-enjin gerestoureer. Sy het ook onlangs aan die Paralimpiese Spele in Rio deelgeneem en in die Klas T37 100 m en 400 m in die finale rondte gehardloop.

Gerick Muller van Mosselbaai was tweede en Rudolf Gouws van Klerksdorp derde. Hulle het albei R15 000 en R10 000 ontvang in die junior-afdeling.

In die senior-afdeling (nie ouers as 35 jaar nie), het Torsten Löwe van Pretoria weggestap met die R50 000 eersteprys. Hy het ‘n 1951 Deutz MAH 914-enjin gerestoureer. Tweede was Johann Rust van Kuilsrivier (R20 000) en Francois van Rooyen van Brackenfell (R15 000) was derde.

Alle deelnemers is versoek om ‘n werkboek met foto’s en dokumentasie van hulle prosesse te voltooi, daarin moet die deelnemer alles wys wat hy regmaak en komponente uitwys wat dalk nie beskikbaar was nie. Saam met die werkboek is hulle enjins uitgestal en beoordeel op ‘n plaaslike vlak in die semi-finaal.

By die enjin word daar gekyk of elke moertjie en boutjie oorspronklik is, asook die meganiese werking daarvan en laastens word ‘n onderhoud met die deelnemer by sy enjin gevoer. Die deelnemer beskryf dan aan die beoordelaars hoe hy die restourasieproses ervaar het en hoe daar vooruitgang gemaak is.

“Ons is baie opgewonde om betrokke te wees by hierdie inisiatief,” sê Paul Leask, Engen smeermiddels se nasionale verkoopsbestuurder. “Engen se verbintenis met veteraantrekkers en ons ondersteuning vir jeugontwikkelingsvaardighede maak dit geskik vir ons.

“Engen het saam met SAVTEK hierdie erfenisprojek aangegryp en het ontdek dat – behalwe die meganiese aspekte – die uitdaging mense bymekaar gebring het, verhoudings gebou het en ‘n herinnering gebring het dat hoop en nuwe lewe gebeur wanneer liefde en sorg saam kom,” voeg Paul by.

Engen het ingestem om R250 000 se pryse beskikbaar te stel en om te help met die bemarking van die kompetisie wat by Agri Megaweek in September 2015 geloods is.

Christo Pieterse, voorsitter van SAVTEK se Sentrale Vrystaatklub glo dat die kompetisie grootliks suksesvol was. “Die lae koste van ongeveer R2 500 om ‘n ou enjin te koop en R3 000 om dit te herstel, het die kompetisie baie aantreklik gemaak, met 27 seniors en 14 juniors wat meegeding het,” sê hy.

Feature Foto: Die junior wenners van links na regs, Nadine Gouws en haar broers Rudolf en Jaco van Klerksdorp in die derde plek, Gerick Muller van Mosselbaai in die tweede plek en die wenner, Jannie en Liezel Gouws van Klerksdorp met Paul Leask, Engen smeermiddels nasionale verkoopsbestuurder, M.J. Herbst van Bloemfontein in die vierde plek en agter hom, Johan Lourens met sy seun Barend van Bloemfontein wat vyfde was.

Bron: Magna-carta

Engen

Die senior wenner van links na regs: Paul Leask, Engen smeermiddels nasionale verkoopsbestuurder met Rudi Hohls van Pietermaritzburg wat vierde gekom het, Johann Rust van Kuilsrivier(tweede), Zaakier Jacobs van Engen. In die eerste plek Torsten Löwe van Pretoria, Francois van Rooyen van Brackenfell (derde) met broers Ruben en Jaco Gouws van Klerksdorp (vyfde) saam met Les Maker van SAVTEK.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0