Categories: NewsPublished On: 10th October 2014

Die wolprys styg

By 1 min read
218 words

Die wolprys het vandeesweek sterker vertoon ondanks ʼn sterker geldeenheid en Cape Wools Merino-aanwyser het met 1,5% gestyg en op R117/kg (skoon) gesluit. Dit is steeds 4,8% hoër as op die openingsveiling en 0,3% hoër teenoor die ooreenstemmende verkope van die vorige seisoen.

Sjina is weer op dreef en die sterker vraag het daartoe bygedra dat die plaaslike mark sterker vertoon. Op die Australiese mark het ʼn soortgelyke tendens geheers waar die mark met 1,7% gestyg het. Kopers het melding gemaak van sterk kompetisie vir die min goeie gehalte wol weens ʼn algehele tekort daarvan op vandeesweek se veiling.

Die Rand het met 1% teenoor die Amerikaanse dollar versterk vergeleke met die gemiddelde koers op die vorige week se veiling en het gesluit op R11,18. ʼn Verkoopspersentasie van 98% is bereik van die 8 280 bale wat op die veiling aangebied was. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (2 419), Lempriere SA (1 787) en G Modiano SA (1 581).

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18 mikron styg met 1,7% tot R129,13/kg, 19 mikron versterk met 0,7% tot R120,78/kg, 20 mikron styg met 1,9% en sluit op R117,45/kg, 21 mikron versterk met 1,4% en sluit op R116,14/kg en 22 mikron styg met 0,9% tot R115,45/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 15 Oktober wanneer sowat 8 200 bale aangebied sal word.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0