DA-verskil-met-regering-oor-Walmart
Die Demokratiese Alliansie se handel en nywerheidswoordvoerder, Tim Harris, het gesê dat mededinging in die kleinhandelbedryf brood nodig is en dat verbruikers sal voordeel trek uit die toetrede van Walmart in die kleinhandelaars-arena.
Dit volg op ministers Rob Davies, Tina Joemat-Pettersson en Ebrahim Patelgemis se ernstige besware teen die transaksie waarby Massmart Holdings deur Walmart oorgeneem word. Die drie ministers meen plaaslike bedrywe en werksgeleenthede gaan in die gedrang kom mits daar nie strenger voorwaardes aan die transaksie gekoppel word nie.
Minister Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het gesê die transaksie het reeds die plaaslike olyfbedryf benadeel. Sy het gesê dit kan katastrofiese gevolge vir plaaslike boere en verwerkers inhou.
Die regering het die hof gevra om die saak na die Mededingingstribunaal vir heroorweging terug te stuur. Die hersiening en appèlsaak word in die kompetisie Appèlhof op 20 en 21 Oktober aangehoor.
Mnr Harris het gesê dat die transaksie as ‘n mosie van vertroue in Suid-Afrika gesien behoort te word. Suid-Afrika word deur voornemende beleggers as ‘n poort na die res van die vasteland gesien.
Mnr Harris het gesê Suid-Afrika se ekonomie moet meer mededingend in bykans elke sektor word. “Hierdie transaksie is ‘n belangrike eerste stap in die rigting van laer pryse in ten minste een van die bedrywe”.
Hy meen die terme wat op die transaksie deur die Kommissie geplaas is moet net so aanvaar word. Hy het gesê Walmart se onderneming om ‘n bykomende R60 miljard op plaaslike aankope te spandeer, 23 nuwe winkels oop te maak en 15 000 nuwe werkgeleenthede te skep moet verwelkom word.