Categories: Energy, NewsPublished On: 16th January 2012

Brandstofprys kan skerp styg

By 2 min read

Brandstofpryse kan volgende maand weer skerp toeneem weens die styging in oliepryse in reaksie op die spanning in die Midde-Ooste en onrus in Nigerië.

Sake24 berig dat Suid-Afrika se brose brandstofvervoerinfrastruktuur ook deur ‘n sameloop van omstandighede onder druk geplaas is.

Onbeplande herstelwerk moes einde verlede maand aan die drywende aflaaipunt buite die Durbanse hawe gedoen word waar olietenkskepe ruolie aflaai. Dit het tot die sluiting van die Sapref-raffinadery in Durban gelei. Sapref hanteer 80% van die ruolie wat die land invoer.

Brent-ruoliepryse het verlede week van $113 per vat tot $115 gestyg in reaksie op Iran se dreigemente dat hy die Straat van Hormoes, ’n strategiese punt waardeur sowat 20% van die wêreld se ruolie beweeg, sal sluit as die Weste voortgaan met planne om Iranse olie te boikot.

Vergeleke met internasionale brandstofpryse betaal Suid-Afrikaners tans sowat 30c per liter te min vir petrol op grond van die regering se prysformule. Dit beteken pryse kan volgende maand met sowat 30c per liter verhoog word as internasionale pryse en die rand-dollar-wisselkoers stabiel bly.

Suid-Afrika is self ’n groot koper van ruolie uit Iran. Volgens die 2010-jaarverslag van die Suid-Afrikaanse brandstofbedryfsvereniging (Sapia) het Suid-Afrika in 2010 5,5 miljoen ton olie van Iran gekoop, 29% van die totale olie-invoer.

Nigeriese vakbonde se protes teen die regering se besluit om petrolsubsidies te staak, dreig om die olie-uitvoer van Afrika se grootste olieprodusent tot stilstand te bring.

Ontleders meen oliepryse kan tot $200 per vat styg as die seestraat gesluit word, maar kan ook skerp val as die internasionale ekonomie krimp.

Mnr Avhapfani Tshifularo, uitvoerende direkteur van Sapia, het bevestig die sluiting van die aflaaipunt by Durban is deels die oorsaak van die stram toestande vir brandstofvoorsiening. Hy sê die bedryf het verskeie gebeurlikheidsplanne om tekorte te vermy.

Volgens mnr Tshifularo kan Transnet se nuwe brandstofpypleiding tussen Durban en Gauteng die druk net gedeeltelik help verlig omdat dit aanvanklik net diesel vervoer.

Die pypleiding het die naweek in bedryf gekom.

Bron: Sake24

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment