Categories: NewsPublished On: 23rd May 2011

Argentyne-sê-hulle-toerusting-is-tops

By 2 min read
Argentinië is gretig om in Suid-Afrika en in Afrika sake te doen. So meen Standard Bank, wat behulpsaam was om ‘n afvaardiging van 25 vervaardigers van landboumasjienerie uit dié land op ‘n besoek na Suid-Afrika te bring. Die Suid-Amerikaners was op Nampo met die doel om plaaslike sakegeleenthede te ondersoek.
 
“Buiten dat ons hoofsaaklik soja verbou en hulle hoofsaaklik mielies, is daar is vele ooreenkomste tussen die twee lande”, het Augustin Ibarguren, die bank se landboubestuurder in Argentinië gesê.  Hy het genoem dat die klimaat, plaasgrootte en bestuursmetodes tot ‘n groot mate ooreenstem. Die plant-, stroop- en spuittoerusting wat Argentinië vir hulle boere ontwikkel het, sal ook baie goed in Suid-Afrika werk, het hy gesê.
 
 “Die ander groot rede waarom ons produkte vir Suid-Afrikaanse boere aanloklik is, is te danke aan die gunstige wisselkoers. Dit beteken dat ons vir hulle betroubare toerusting teen beter pryse kan lewer teenoor toerusting wat uit ander bronne afkomstig is” het hy gesê.
 
Die Argentyne het toerusting vir beide konvensionele- en minimumbewerking.
 
 Mnr Ibarguren het gesê dat meeste Argenteinse boere reeds twintig jaargelede na minimumbewerking oorgeskakel het, en dat hulle opbrengs as gevolg daarvan bykans verdubbel het. “Ons glo dat dieselfde benadering ‘n reuse toename in opbrengspotensiaal in Suid-Afrika te weeg sal bring – en ons toerusting kan die oorgang vir plaaslike boere vergemaklik” het hy gesê.
 
Dr Pieter Mulder, die adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye het Argentinië onlangs as ’n gas van die Argentynse regering besoek. Die twee lande het toe op groter samewerking op die gebied van landbou ooreengekom, wat ook die uitruil van tegniese landboukennis insluit. 
 
Argentinië se boere het vanweë hulle toegepaste landbounavorsing die afgelope aantal jare daarin geslaag om die land van ’n voedselinvoer- na ’n voedseluitvoerland te omskep. Argentinië se 40 miljoen inwoners produseer tans genoeg voedsel vir 400 miljoen mense.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment