Almal moet help om voëlgriep te voorkom

withoender
Die uitbreking van die hoogs aansteeklike voëlgriep naby Standerton en Villiers word in ‘n ernstige lig beskou en NWK het ‘n beroep op boere en die publiek gedoen om betrokke te raak om te voorkom dat die siekte na die Noordwes-provinsie versprei.
“Voëlgriep het die potensiaal om die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf op sy knieë te dwing. Om die bedryf te beskerm, is dit noodsaaklik dat alle betrokke rolspelers asook die publiek saamwerk om die verspreiding van die siekte te keer. Vinnige reaksie kan help om uitbrekingse so gou moontlik te isoleer. Ons kan slegs suksesvol wees as almal in die streek saamwerk,” het Jaco Viljoen, hoofuitvoerende beampte van Opti Besighede, NWK, gesê.
Die publiek moet kennis neem dat die siekte nie enige negatiewe gevolge inhou vir mense nie en alle hoendervleis wat kommersieel in Suid-Afrika geproduseer word, kan dus as veilig vir menslike gebruik beskou word. Die spesifieke stam van die virus, H5N8, wat in hoenders in Mpumalanga geïsoleer is, hou geen bedreiging in vir mense nie en is nie dieselfde dodelike stam as wat al voorheen in Asiatiese lande gevind is nie. Dit is egter dodelik vir hoenders en ‘n 100%-mortaliteitsyfer kan verwag word. By die eerste uitbreking het die hele bevolking in die hoenderhuis waar die eerste tekens van die siekte gesien is, binne ‘n paar dae gevrek.
Opti Besighede doen ‘n beroep op alle produsente van hoenders en ander pluimvee om seker te maak dat die volgende maatreëls onmiddellik ingestel word:
- Stel streng biosekuriteitsmaatreëls by alle produksie-eenhede in.
- Aangesien die siekte heel waarskynlik deur wilde voëls versprei word, voorkom kontak met enige wilde voëlspesie en hou hoenders binnenshuis.
- Oop waterbronne is ‘n ernstige risiko aangesien dit wilde trekvoëls aanlok en besmet word deur die voëls wat die draers van die siekte is.
- Dit is noodsaaklik om enige skielike verhoging in vrektes van enige voëlspesie aan te meld by die toepaslike owerhede. Opti Besighede moedig dus die publiek sowel as boere aan om dit aan te meld as daar enige abnormale mortaliteite of dooie voëls waargeneem word. Meld dit onmiddellik by Rina Botha van Opti Besighede by 082-828-6360 aan. Sy sal toesien dat die regte beamptes van die aangemelde gevalle ingelig word sodat die siekte beheer kan word.
Kontak Opti Besighede vir enige inligting oor die siekte asook die biosekuriteitsmaatreëls wat in plek moet wees.
Bron: NWK/Opti Chicks