AFGRI wil tegnologie bevorder
AFGRI was vir die agste agtereenvolgende jaar by vanjaar se NAMPO Oesdag om met hulle kliënte te skakel. Hulle was ook weer ‘n platinum borg vir die vierde jaar by Nasie in Gesprek, wat regstreeks uitgesaai is en het die koffie in die BBP-ruskamer geborg.
“NAMPO gaan oor skakeling met kliënte, want dit is belangrik om met hulle te kommunikeer en om te hoor wat hulle behoeftes is,” sê Wilna du Plessis, bemarking- en geleentheidsbestuurder van AFGRI.
“Teenoor verlede jaar het ons baie positiwiteit onder ons kliënte beleef. Mense kom as ‘n familie na ons toe. Dis lekker om te sien hoe gaan dit met die kliënt, wie is sy vrou en kinders.”
AFGRI beweeg baie in die tegnologiese rigting. “Daar was ‘n paneelbespreking oor ons eAccounts (elektroniese bankdienste) by Nasie in Gesprek vir ons kliënte, want ons wil ons eAccounts platform uitbrei,” sê Wilna.
Hierdie platform is al in 2015 geskep deur hulle finansiële afdeling, Unigro, en die doel was om vir AFGRI se kliënte ‘n doeltreffende elektroniese platvorm te gee om hulle bedrywighede deur ‘n rekenaar, slimfoon of tablet te bestuur.
Volgens ‘n persverklaring deur AFGRI is daar in die afgelope twee jaar betalings van meer as R4-miljard gemaak deur eAccounts, met een bedrag wat in totaal R67-miljoen was. Die eAccounts maak mense se lewe net soveel beter. Een voordeel is dat die toepassing boere tyd spaar en veilig is. Tans word daar geen fooie gevra op die graanbestuursfunksie nie en met slegs ‘n maandelikse fooi van R75 kry kliënte toegang tot onbeperkte finansiële transaksies.
Dis lekker vir AFGRI om te deel en landbou vorentoe te vat. Op die laaste dag van Nasie in Gesprek het hulle met die jeug gepraat oor watter geleenthede AFGRI byvoorbeeld vir die jongmense kan bied en om vir hulle te vertel dat daar wel ‘n toekoms in die landboubedryf is.
“Ons wil graag ook vir ons kliënte dankie sê wat hier was en vir Graan SA om deel hiervan te kan wees,” sê Wilna.
Hooffoto: Van links: Theo Potgieter, Elmien Potgieter, Janus Viljoen, Pieter Kruger, Wilna du Plessis, Koot Klopper en Sylverster Lubambo by AFGRI se standplaas op NAMPO.