Categories: NewsPublished On: 12th April 2016

AFGRI glo in die toekoms van die landboubedryf

By 2 min read
322 words

AFGRI-Logo

AFGRI het in die droogtetyd hulp aan boere gebied deur R20-miljoen te gee vir die droogterampfonds en het ook voer aan boere geskenk. Hulle het ook nie hulle bergingskoste soos elke jaar verhoog nie.

“Die laat reën wat geval het, het gehelp, maar die gras gaan nie herstel voor die winter nie,” sê Izaak Breitenbach, senior besturende direkteur van voedseldienste by AFGRI. Hy sê dit gaan ten minste een goeie seisoen vir ‘n graanboer neem om te herstel en twee jaar vir ‘n veeboer.

AFGRI se bestuur het op ‘n media-inligtingsessie oor hulle doelwitte en toekomsvisie gesels.  AFGRI is ‘n private maatskappy wat uit die ou Oos-Transvaal Koöperasie ontstaan het en hulle visie is “driving food security across Africa”. AFGRI brei ook in Afrika-lande soos Zambië, Ghana, Tanzania en nog vele meer uit. Een van die doelwitte is om opkomende boere uit armoede weg te neem na ‘n situasie waar hulle vir hulself kan sorg.

AFGRI sien ook uit na die jaarlikse NAMPO-oesfees wat binnekort plaasvind. “By NAMPO is daar nuwe produkte wat aan die boer voorgestel gaan word,” sê Chris Venter, hoofuitvoerende beampte van AFGRI.

Hy sê die verbetering van kliëntediens en die gebruik van tegnologie is vir hulle baie belangrik.

AFGRI gee terug aan die gemeenskap deur:

  • Kruideniersware aan nege gemeenskappe te skenk
  • 27 boerdery-entiteite te finansier
  • 12 skole by te staan met 3 141 leerlinge wat voordeel daaruit trek
  • 29 ABBA projekte te identifiseer
  • 8 gemeenskappe te help met groentetuine en skoon water
  • 98 boerderye het 254 mense ondersteun
  • ABBA Zambië gee aan 170 kinders elke Sondag kos.

Chris sien dat landbou ‘n groot toekoms het. “Die bevolking groei en mense moet eet, maak nie saak wat gebeur nie. Boerdery is steeds positief en Sjina en Europa het altyd die behoefte aan invoere. Mense besef nie hoe goed ontwikkel ons  in Suid-Afrika is nie, ons het ‘n groot kommersiële boerdery grondslag. Ons kan nie vir altyd mielies invoer nie, dis net nie volhoubaar nie.”

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0