Categories: NewsPublished On: 27th January 2011

8,26% minder mielies geplant

By 2 min read

Voorlopige syfers dui daarop dat kommersiële boere 8,26% minder mielies aangeplant het as verlede jaar. Die oppervlak onder geelmielies het egter toegeneem

Die Oesskattingskomitee se voorlopige skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,516 miljoen ha, wat  226 600 ha minder is as die vorige seisoen se aanplantings. Dit is egter 1,92% meer as die voornemens om te plant soos vrygestel gedurende Oktober 2010.

Die oppervlak onder witmielies is 1,481 miljoen ha, wat ’n afname van 13,86% verteenwoordig. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 1,034 miljoen ha. Dit is 1,15% of 11 800 ha meer as die vorige seisoen.
 
Dit is veral in die Vrystaat en Noordwes waar die geskatte aanplantings minder is. Volgens die Oesskattingskomitee is daar 2,7% meer mielies in Mpumalanga aangeplant. 
 
Die komitee het in sy nuusvrystelling beklemtoon dat die aanplantingsyfers vir die ander somergewasse net voorlopig is en nog kan verander. Dit volg op swak reaksie van die boere se kant af op die gereelde opname wat deur die Direktoraat Landboustatistiek van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye onderneem word, sowel as onsekerheid oor die impak van swaar reën en die skade veroorsaak deur die vloede. Die opname het met die groot reën in die middel van Januarie saamgeval. 
 
Die komitee sê die hersiene aangeplante area en produksiesyfers sal in Februarie vrygestel word en sal hoofsaaklik gebaseer wees op inligting wat vanaf PISCES (vlug-opnames) verkry word. Dit behoort akkurater en omvattender te wees.
 
Die oppervlakskattings lyk soos volg:
Sonneblomsaad:  575 200 ha – 44,63% meer as die 397 700 ha aangeplant die vorige seisoen.
Sojabone: 438 000 ha – 40,63% meer as die 311 450 ha geplant die vorige seisoen. Hierdie is die grootste oppervlakte nog ooit beplant met sojabone.
Grondbone:  54 550 ha – 5,05% minder as die 57 450 ha geplant vir die vorige seisoen.
Sorghum: 86 675 ha – 16,93% minder as die 72 000 ha van die vorige seisoen.
 
Ondertussen is berig dat Suid-Afrika se koring-oes vanjaar die kleinste in 19 jaar kan wees en dat die land na verwagting 1,4 miljoen ton koring sal moet invoer.
 
Dit kan grootliks aan swak koringpryse tydens die begin van die plantseisoen, asook versuipskade weens swaar reënneerslae toegeskryf word.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0