Categories: Boer slim!, NewsPublished On: 6th December 2022

2022 Landbou-hoogtepunte

By 10 min read
1870 words

ruben-christen-RFu5V4c7JCQ-unsplash

Voor jy jou oë kon uitvee het ons nog ՚n jaar kafgedraf. Die SuidAfrikaanse landboubedryf het ʼn goeie jaar agter die rug. Na die onlangse reën is die meeste boere verlig, maar onder ander boere wek dit ook kommer.

Ten spyte van die risiko’s wat klimaatsverandering inhou, is daar ook geleenthede — groot geleenthede vir vernuwing, soos nuwe tegnologie en die omskakeling van koolstof-gedrewe energie na hernubare energie.

As ՚n mens in die truspieëltjie terugkyk na alles wat die afgelope sowat 365 dae gebeur het, sien jy ons boere verdien ՚n kloppie op die skouer vir wat hulle deur die jaar vermag het:

Januarie 2022

Nat nuwejaar

Ons het die jaar op ՚n nat noot afgeskop. Kniediep in die modder – dit is hoe ons vanjaar se produksietoestande in somergraangebiede kon beskryf. Sommige streke is deur vloedskade bedreig.

Bloubessies SA steek voelers uit na Duitsland

Berries Suid-Afrika, die bedryfsvereniging vir Suid-Afrikaanse bloubessies, frambose en brame (Berries ZA) het ՚n promosieveldtog oor bloubessies geloods om sleutelrolspelers in die bedryf in Duitsland teiken. Europa is die grootste mark vir Suid-Afrikaanse bloubessies. Aangesien Duitsland steeds ‘n klein mark vir Suid-Afrikaanse bloubessies is, hoop Berries ZA om verhoudings met sleutelrolspelers in die bedryf daar te ontwikkel en uiteindelik hulle markaandeel, wat tans rondom 3% is, te vergroot.

Februarie 2022

Baler- en hooidag

Die jaarlikse baler- en hooidag was weer ՚n hoogtepunt. Balers van verskillende soorte het meegeding om te kyk watter een met die louere wegstap. Vermeer het vanjaar met eerste en tweede plek weggestap, met New Holland kort op hulle hakke in die derde plek.

Wagyu-vleisproduksie skiet die hoogte in

In Februarie is berig dat die produksie van Wagyu-vleis die afgelope jaar met 90% toegeneem het. Vanaf Februarie 2021 tot Februarie 2022 is 1 303 ton Wagyu-vleis geproduseer waarvan 60% uitgevoer is, die meeste na Oosterse lande.

Sprinkaanplaag knou boere

Die goeie reën vroeër vanjaar in die Noord-Kaap het weer wydverspreide uitbrekings van bruinsprinkane in die provinsie tot gevolg gehad het. Swerms wat 20 km en selfs 30 km gestrek het is aangemeld.

Die landbousake-organisasie, Agri SA, maan boere om nou al die nodige voorbereidings te tref om sprinkaanuitbrekings te voorkom in die opkomende nat seisoen.

Maart 2022

Koringenetika deurbraak

Vir die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika bestaan die vermoë en kennis om koringgene te kloon en om die genoomvolgorde van ’n SuidAfrikaanse koringkultivar te bepaal. Dit is danksy ’n navorsingsprojek wat deur CenGen geloods is in samewerking met plantgenoom-spesialiste van die King Abdullah University of Science and Technology (KAUST) in Saoedi-Arabië, en plantpatoloë by die Universiteit van die Vrystaat.

Oorlog wek kommer

Die ontwrigte uitvoere uit Rusland en Oekraïne het ՚n groot impak op die plaaslike graanmark, aangesien SuidAfrika veral baie koring vanaf dié lande invoer. Die uitdagings wat die internasionale landboumark in die gesig gestaar het en steeds doen, vind hoofsaaklik neerslag in die toenemende styging in Suid-Afrikaanse boere se insetkostes – veral vir diesel, olie en kunsmis.

Volgens ’n verslag van GraanSA is Rusland die naasgrootste produsent van ammoniak, ureum en kaliumkarbonaat (potas), asook die vyfde grootste produsent van verwerkte fosfate, ter wêreld. Rusland voorsien ook in ongeveer een derde van Europa se aardgasbehoeftes, wat die produksie van stikstofkunsmis beïnvloed.

Suid-Afrika is swaar afhanklik van die buitelandse kunsmismark, aangesien al ons kaliumkunsmis, sowel as 60 tot 70% van ons stikstofkunsmis, ingevoer word – baie hiervan vanaf die Swartsee-gebied.

April 2022

SA se rosyntjiebedryf beur volstoom voort

Rosyne SA se aangepaste beraming vir die 2021/2022-seisoen is 65 000 ton bemarkbare rosyne, maar jaarlikse opbrengste sal na verwagting teen 2025 tot 100 000 ton groei, te danke aan nuwe aanplantings en die stelselmatige vervanging van wingerde sedert 2014.

Aankondiging van nuwe graderingskategorie vir landbouvoertuie

Die Suid-Afrikaanse Spesialerisikoversekeringsvereniging (Sasria) het ʼn nuwe graderingskategorie vir landbouvoertuie, A1, aangekondig wat op 1 Augustus 2022 in werking getree het. Dié aankondiging kan vir boere welkome geldelike verligting bring.

Volgens die nuwe graderingskategorie word ʼn landbouvoertuig omskryf as enige selfaangedrewe of gesleepte voertuig wat gebruik word in die uitvoer van landbou- en boerderybedrywighede (insluitend die instandhouding en versorging van die grond en van private of toegangspaaie waarvoor die versekerde homself verantwoordelik hou) wat, ten tyde van ʼn eis, nie in stryd met die bepalings van die Padverkeerswet of enige vervanging daarvan gebruik word nie.

Brandstof- en kospryse styg drasties

Brandstofpryse het in 2022 drasties gestyg, wat baie druk op boere geplaas het.

Volgens Graan SA toon werklike data vir die 2019/2020-seisoen dat brandstof naastenby 10% van boere se totale produksiekoste uitmaak. Brandstofpryse het in 2021 met 40% verhoog en totale insetkoste (insluitende saad, kunsmis, chemie en brandstof) het jaar op jaar met 50% gestyg. Die prys van diesel het tussen April en Mei met 8,1% gestyg. Dit het veroorsaak dat vleis en ander kos toenemend duurder raak vir die verbruiker, sonder dat dit enige voordeel vir die boer inhou. Sonneblomolie se prys het met 40% gestyg teenoor ՚n jaar gelede.

Natal-oorstromings wek kommer

Die oorstromings in KwaZulu-Natal het ՚n groot impak op die landbousektor gehad. Dit is duidelik dat die oorstromings groot skade aan infrastruktuur veroorsaak het, en waarskynlik langtermyn gevolge vir die bedryf inhou. Die verwoesting wat die oorstromings veroorsaak het, het talle logistieke probleme tot gevolg gehad, wat die uitvoer van produkte en die invoer van landbouverwante goedere aansienlik bemoeilik het.

Mei 2022

NAMPO

Die reusagtige John Deere X9-stroper van voor.

Alle paaie het vanaf 16 tot 20 Mei 2022 gelei na die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond. NAMPO-oesdag is terug, tientalle vervaardigers van voertuie, werktuie, onderdele en bybehore het by een geleentheid op een perseel uitstallings en demonstrasies aangebied.

Vanjaar het meer as 60 000 mense dié landbouskou in Bothaville bygewoon.

՚n Hoogtepunt by vanjaar se 54ste NAMPO-oesdag was die bekendstelling van John Deere se reusagtige en indrukwekkende X9 1100-stroper, die grootste John Deere-stroper op die vasteland.

Junie 2022

Bonsmara-bul verkoop vir rekordbrekende R2,1-miljoen

Die bul, BBM 16 96, het ‘n nuwe SuidAfrikaanse rekord vir ‘n Bonsmara opgestel toe hy by vanjaar se Poggenpoel Molopo Bonsmara-produksieveiling vir R2,1-miljoen verkoop is aan Baszohn Bonsmaras.

Julie 2022

Bek-en-klou teister landboubedryf

Bek-en-klouseer is ՚n ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte wat lewendehawe aantas met ՚n beduidende ekonomiese impak. Dit raak beeste, varke (huishoudelik en wild), skape, bokke en ander gespletekloudiere. Dit raak nie mense nie. Tekens van bek-en-klouseer sluit in depressiewe diere en sere in die bekke van diere wat maak dat hulle onwillig is om te eet.

Die uitbreking van bek-en-klouseer in die land vroeër vanjaar het die landboubedryf laat steier en talle boere op hulle knieë gehad. Na streng beheermaatreëls en kwarantyn die siekte op sy plek gesit het, kon die landboubedryf ten einde weer kop optel.

Augustus 2022

Ons vier suksesvolle vroue in landbou!

Frans Cronjé, streekverkoopsbestuurder van Fendt Suid-Afrika, saam met Tharina Terblanche, eienaar van Terblanche-boerdery, en Bronwyn Cilliers, hoofbestuurder van Valtrac Parys. Hulle is voorbeelde dat vroue ՚n sleutelrol in die Suid-Afrikaanse en internasionale landbousektor kan vervul.

՚n Hoogtepunt op vanjaar se ProAgrikalender was ons vrouemaand-fokus. Ons spesiale fokus was om vroue in die landboubedryf te vereer. Ons het met vroue gepraat oor die belangrike rol wat hulle in die landbousektor speel en meer geleer oor hulle liefde vir landbou.

Frans Cronjé, streekverkoopsbestuurder van Fendt Suid-Afrika, saam met Tharina Terblanche, eienaar van Terblanche-boerdery, en Bronwyn Cilliers, hoofbestuurder van Valtrac Parys. Hulle is voorbeelde dat vroue ՚n sleutelrol in die Suid-Afrikaanse en internasionale landbousektor kan vervul.

September 2022

NAMPO Kaap

NAMPO-Kaap, beter as ooit! Vanjaar se NAMPO-Kaap was nóg groter en beter as die vorige aanbieding in 2019. ՚n Rekordgetal van 32 640 besoekers het vanjaar se NAMPO-Kaap-landbouskou oor vier dae bygewoon om te kyk wat die meer as 500 uitstallers kon bied.

NAMPO Kaap het na ՚n afwesigheid van twee jaar weens die koronavirus-beperkings uiteindelik weer plaasgevind.

Die jaarlikse KragDag het ook na twee jaar se afwesigheid weer afgeskop, met ՚n behoorlike slag! KragDag het vanjaar alle verwagtinge oortref, met meer as 30 000 skougangers en 580 sake-ondernemings wat aan die ekspo deelgeneem het.

Spiekeries JB 200099.

Dormerram verkoop vir ՚n Spiekeries prys

՚n Dormerram het alle Suid-Afrikaanse rekords laat spat. Johan Barnard van Johanri Dormers het “Spiekeries”, ՚n seun van die welbekende ram, Ketting, aan Johnny Forbes van Vredesig Dormers verkoop vir ՚n allemintige prys van R510 000.

Oktober 2022

NAMPO Alfa duur voort ten spyte van bek-en-klou-verbod

Die verbod op die vervoer van beeste na die bek-en-klou-uitbraak in sekere dele van die land was kommerwekkend. Die eerste NAMPO Alfa lewendehawe-ekspo wat deur Graan SA en Alfa-ekspo aangebied is kon voortgaan ondanks die verbod.

Nuus vanuit die CNH-kontrei

Jacques Taylor is as die nuwe besturende direkteur van CNH Industrial AG & CE SA aangestel.

Brande in die Noord-Kaap

Talle brande regoor die Noord-Kaap het duisende hektare weiveld en vee vernietig en groot skade vir boere veroorsaak. Baie brande is deur weerlig veroorsaak. Sodra boere die een brand onder beheer gebring het, het daar ՚n volgende een ontstaan, wat soms dae aaneen gebrand het. Die brand in die Kuruman-omgewing het 100 000 hektaar afgebrand. Dit was ook die tweede agtereenvolgende jaar wat boere in die omgewing brande moes trotseer. Boere het permanent met hulle vuurvegters op hulle bakkies gery. Boere is nou baie meer ingestel om brandpaaie op hulle plase te maak vir toekomstige brande.

November 2022

Propvol damme

Die meeste van die land se damme is vol na goeie reën. Die styging in die land se damme is baie goeie en positiewe nuus, veral na die afwaartse kurwe wat ons die afgelope tyd ervaar het. Die Vaaldam staan teen einde November op 91,3% en die HF Verwoerddam, die land se grootste dam, loop oor en staan op 102,6%. Sterkfonteindam se vlak is tans 103%.

Rissieboer van Limpopo aangekondig as Agri SA/Toyota SA se Jongboer van die Jaar

Hannes Wolvaardt van Giyani, Limpopo, het die nasionale toekenning as Agri SA se Jongboer van die Jaar ingepalm. Hannes boer met tamaties, soetrissies en sitrus.

Tegnologiese vooruitsigte van die Jupidex-groep

Die Jupidex-groep het opwindende nuwe presisietegnologie aangekondig wat binnekort aan boere bekend gestel gaan word. Kry meer mielies met minder kunsmis met Pudama. Pudama is die naam van ՚n tegniek wat presisie-kunsmisplasing onder mieliesaad tydens plantwerk moontlik maak. Lees meer oor hulle ander presisietegnologie wat binnekort bekendgestel gaan word hier.

Desember 2022

Tekkerverkope sluit goed af

Die landbousektor in Suid-Afrika maak 3% van die Bruto Binnelandse Produk uit, maar het die afgelope paar jaar ʼn belangrike bydrae gemaak tot die ekonomiese groei wat ons wel tot uitvoer en belegging gehad het. Waaroor ՚n mens meestal lees, is al die uitdagings wat die sektor in die gesig staar, en daar is baie.

Tog was daar die afgelope paar weke ook nuus wat ՚n mens optimisties maak – reënvooruitsigte vir die somerseisoen lyk goed en trekkerverkope is op ʼn rekord hoogtepunt: 15,9% hoër as dieselfde tyd verlede jaar.

Oesvooruitsigte lyk goed

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê dat beskikbare data daarop dui dat boere se voornemens rakende die aanplanting van somergewasse vir die 2022/23-seisoen op nog ʼn groot oes dui.

Ons as boere sit met enorme uitdagings. As dit nie die mens-dierkonflik is nie, is dit ons dieregesondheidstatus wat onder beleg kan kom, of die toenemende vlaag van wetteloosheid wat ons voortbestaan bedreig. Ten spyte van al hierdie probleme kan ons uitsien na môre en is daar hoop. Danksy die reën kan ons weer boer en met sorg toesien dat ons volk kan eet.

՚n Finale boodskap van die redaksiespan aan die einde van 2022 is:
Mag 2023 vir jou al die hoogtepunte van jou boerderyloopbaan bring. Moenie geleenthede laat verbygaan nie, leef met integriteit, beplan en leef doelgerig!

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0