2016 Opel Astra: Stel nuwe standaarde vir sy marksegment

Astra 1.6T Sport – 62
Met die plaaslike bekendstelling van die 11de generasie Opel Astra in die pragtige Oos Kaap, het die geveg om markaandeel in die hoogs kompeterende middelslag luikrug passassiermotorsegment skielik meer intensief geword.
Die vorige generasie Astra het sy aanhangers gehad, maar die VW Golf en Ford Focus was aan die voorpunt met veral die Golf wie beïndruk het met bougehalte en paddinamika.
Met die nuutste Opel Astra gaan dit verseker verander, want die nuwe model in die GM stal kom toegerus met ‘n rits standaard toerusting wat eens net beskikbaar en beskore was vir die veel duurder luukser motors op ons paaie. Behalwe vir ‘n moderne voorkoms, is die 2016 Astra se bougehalte, paddinamika, enjins en tegnologie wat my betref, aan die voorpunt van sy marksegment.
Voorkoms en Ontwerp
Van buite vertoon die nuwe model vars en modern. Voor tref die nuwe hoofligontwerp om die IntelliLux LED’s te akkommodeer en dan is daar die nuwe blink strook in die sierrooster.
Agter is daar ook nuwe LED ligte en dan is daar die C-pilaar wat met ‘n swart invoegsel die illusie skep dat die dak in die lug hang (floating). Die nuwe Astra se ontwerpers het reggekry om die lugvloei en aerodinamika te verbeter vir minder weerstand en gevolglik beter brandstofekonomie te bewerkstellig. Hulle het ook reggekry om die nuwe model 49mm korter, 26mm laer en tussen 120 en 200kg ligter as die uitgaande model te maak, maar tog die kajuit binne te vergroot.
Binneruim en Toerusting
Die nuwe Astra se dak is nogal laag en my 1,87 meter lyf moes maar buk om in te klim. Tog voel die kajuit verbasend ruim van agter die stuurwiel, veral met die sitplek op sy laagste verstelling.
Die binneruim voel en vertoon duursaam en ek was veral beïndruk met die uitstekende afwerking en ergonomie van die nuwe model. Die kajuit kan vyf insittendes van gemiddelde grootte gemaklik hanteer en die been-, kop- en skouerruimte is heel billik, solank jy nou nie probeer om jou gunsteling rugbyspan se vaste vyf tussen rugbystadions te skuif nie.
Die nuwe Opel Astra stel egter nuwe standaarde in sy segment wanneer dit by basiese toerusting en bestuurderhulpmiddele kom.
Daar is ondermeer ESP (elektroniese stabiliteitsbeheer), HAS (hill start assist), EBD (elektroniese remkragverspreiding), ABS remme, LED dagryliggies, Bluetooth en USB koppeling met AUX-skakeling, MP3/radio/cd klankstelsel, spoedbeheer met togkontrole, kragstuur met beheerskakelaars vir die telefoon/spoedbeheer en klankstelsel. Daar is ook Isofix hegpunte vir kinderstoeltjies.
Die Sport/Plus modelle kom met elektroniese klimaatbeheer, donker getinte agterste kantvensters en agterruit. Die ruitveërs het reënsensors en skakel outomaties aan as dit begin reën. Die tru-spieël verdonker ook as die motor agter jou se ligte te skerp is. Verder vou die kantspieëls elektries oop- en toe. Met ”Blind Spot Assist” word die bestuurder gewaarsku met liggies in die kantspieëls as daar voertuie in sy blindekol sou inbeweeg.
Al die modelle in die nuwe Astra-reeks, met uitsondering van die 1.0 liter intreemodel, kom standaard met die “Driver Assist package” wat byvoorbeeld die bestuurder waarsku van moontlike botsings en ook die remme outomaties aktiveer alvorens botsings plaasvind om die impak op die motor en insittendes te verminder. Die stelsel dui ook die volgafstand aan tussen jou en die motor voor jou asook die heersende spoedgrens in die gebied waarin jy bestuur. Daar is ook ‘n “Lane Keep Assist” stelsel wat met die “Opel Eye” kamerastelsel voor in die neus van die Astra die lyne op die padoppervlak “lees” en die motor terugbring in die baan waarin hy ry deur die remstelsel selektief te gebruik as daar vanuit die baan beweeg word. Daar moet egter duidelik sigbare lyne op die padoppervlakte wees vir die stelsel om behoorlik te kan funksioneer. Tydens ons bekendstellingsrit was dit egter duidelik dat hierdie stelsel op die Astra ‘n bietjie meer verfyning benodig.
Die luukser 1.6 T modelle kom ook standaard met verhitte leersitplekke voor en agter, verhitte stuurwiel, sleutelose toegang en skakeling, tru-kamera en self-parkering waar die bestuurder slegs die ratte verander. Vir bietjie minder as R11,000 kan jy op die 1,4 T Sport en 1,6T Sport modelle die opsionele 8” raakskerm kry met sateliet navigasie.
Opel het die nuwe 1.6 T Sport MT Plus model toegerus met ‘n klasleidende en segment-eerste ”IntelliLux Matrix Adaptive Forward Lighting” stelsel. Die stelsel aktiveer of deaktiveer een of meer van die 8 LED liggies in elke hooflig na gelang van “behoefte” om uitstekende en “intelligente” ligopsies te bied wanneer daar in die nag bestuur word en kan op vol sterkte die pad tot 350 m vorentoe verlig.
Enjins en Verrigting
Die 2016 Opel Astra modelreeks is beskikbaar met drie petrolenjins waarvan twee geheel nuut in die Suid-Afrikaanse mark is. Diesel enjins mag moontlik later beskikbaar gestel word sou daar ‘n groot genoeg behoefte daarna ontstaan.
‘n 1.0-liter Turbo ECOTEC ecoFLEX 3-silinder oondjie lewer 77kW/170Nm en kom in die 1.0T Essentia MT en 1.0T Enjoy handrat modelle. Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 4,3 liters/100 km.
Die 1.4 liter Turbo ECOTEC enjin met die 6-spoed handratkas lewer 110kW/230Nm terwyl die 6-spoed outomatiese weergawe, 245Nm se piek wringkrag teen dieselfde toere lewer.
Die topmodelle in die reeks kom met ‘n 1.6 Turbo ECOTEC kragbron wat 147kW en 280Nm se piekverrigting uitskop. Met die “Overboost” geaktiveer word daar 20Nm bygevoeg. Topspoed vir die topmodel word aangegee as 235kpu.
Met die uitsondering van die 1.0T Essentia intreemodel, ry die ander modelle op 17” wiele terwyl die Sport/Plus weergawes 18” wiele kry.
Terwyl die 1.6T in beide handrat en outokas formaat heerlike verrigting gelewer het tydens ons 6 uur lange bekendstellingsrit deur die pragtige Oos Kaapse landskap en oor drie bergpasse tussen Oos-London na Port-Elizabeth, het die 1.4T modelle en veral die outomatiese weergawe my die meeste beïndruk. Daar was maar min verskil in verrigting tussen die 1.6T en 1.4T, maar die 1.4T se ligter enjin voor in die neus het vir beter hantering en brandstofverbruik gesorg. Die 1.4T het ook beter gevaar tydens ons gymkana kompetisie by GM se voertuigverspreidings aanleg in PE.
Opsomming
Onderstel, vering, hantering, stuurgevoel en paddinamika is noemenswaardig goed met ‘n feitlik foutlose vertoning tydens ons rit wat hier en daar maar bedenklike gedeeltes padoppervlaktes ingesluit het. Die bougehalte van die nuwe Astra in geheel is indrukwekkend en die ritgehalte het die 6 uur lange rit ‘n aangename ervaring gemaak.
Die kompetisie in hierdie marksegment het rede tot kommer. Die 2016 Opel Astra stel nuwe standaarde vir luuksheid, tegnologie, brandstofverbruik en dinamika in hierdie segment. Geen verrassing dus dat die nuwe Opel Astra onlangs aangewys is as Europa se 2016 Motor van die Jaar. Inderdaad welverdiend.
Pryse:
1.0T Essentia R254 000
1.0T Enjoy R284 300
1.4T Enjoy MT R328 000
1.4T Enjoy AT R338 000
1.4T Sport MT R354 000
1.4T Sport AT R374 000
1.6T Sport MT R387 000
1.6T Sport PLUS MT R407 000
Die Opel Astra is standaard beskikbaar met ‘n 5 jaar/120,000km waarborg en padbystandhulp asook ‘n ‘n 5 jaar/90,000km diensplan. Dienste moet elke 12 maande of 15 000 km gedoen word.
Artikel geskryf deur DIRK GALLOWITZ



