Categories: NewsPublished On: 26th January 2016

Drastiese styging in voedselpryse op die tafel

By 1 min read
259 words

bord leeg

Mense besef nog nie hoeveel hulle nou vir voedsel gaan betaal as gevolg van die droogte nie, sê FoodBank SA.

Die verhoogde voedselpryse kan in ‘n veiligheidsrisiko ontaard aangesien die helfte van die bevolking nie eers basiese voedsel kan bekostig nie. Mielies is vir 14 miljoen mense stapelvoedsel en die mielieprys het met 150% tot R5 000 ‘n ton gestyg, sê FoodBank SA. Verlede jaar is mielies teen R2 017 ’n ton verkoop.

Die stygende mielieprys het ’n groot invloed op ander voedselsoorte se pryse, want vleis gaan ook na verwagting met gemiddeld R40/kg na R80/kg verhoog, sê Frans van der Bergh, ’n boer en voorsitter van Agri-Gauteng. Hy meen kospryse gaan buitensporig raak.

Professor Mary Scholes van Wits Universiteit se Diere-, Plant- en Omgewingswetenskappe sê geweld sal plaasvind daar waar kos die skaarsste is en waar daar vervoerprobleme ontstaan. Sy het ook gesê sommige handelaars mag dalk kos opgaar en dit eers later in die jaar beskikbaar stel teen hoër pryse.

Volgens Robert Small, stigter van die Farm and Garden National Trust, bestee die helfte van die bevolking tot 70% van hulle geld op kos.

“Die stygende pryse sal mense dwing om weer te kyk na na mikro- of tuisboerdery.  Mense moet besef hulle kan nie op die regering staatmaak vir oorlewing nie,” sê Robert.

Mense gaan kosvoorraad bymekaar wil maak wanneer dit alreeds te laat is, hulle moet dit nou doen terwyl hulle dit nog kan bekostig, sê Paula Barnard, woordvoerder van World Vision. Sy verwag dat pryse al in Maart en April drasties gaan styg.

Bron: The Times

kos in winkel

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0