11,5 miljoen hoenders kan vrek as Eskom Standerton se krag afsny

eskom 1
Astral Foods Limited, ‘n groot Suidelike-Afrika pluimveemaatskappy, het ‘n afskrif van ‘n brief deur Eskom aan die Lekwa (Standerton) plaaslike munisipaliteit bekom. Volgens die brief gaan daar vanaf 23 Januarie geskeduleerde kragonderbrekings na die dorp wees as gevolg van uitstaande betalings aan Eskom.
Die geskeduleerde afsnytye van die krag sal Astral se voer- en pluimvee bedrywighede onderbreek. Daar is ‘n verdere risiko dat Eskom die krag finaal sal afsny as die munisipaliteitskuld nie verbeter nie,.
Chris Schutte, besturende direkteur van Astral, sê: “Ons beskou die kennisgewing van die kragonderbrekings en potensiële afsluiting van toevoer van elektrisiteit as ‘n katastrofe. ‘n Hoenderboerdery het te alle tye voer, water en ventilasie nodig. Die pluimveeverwerkingsaanleg vereis deurlopend krag om masjinerie en verkoeling aan die gang te hou.
“Die kragonderbrekings sal regstreeks tot welsynskwessies, onderbrekingskoste en die verlies van die finale produk in die koue ketting lei. Die omvang van hierdie besluit het verreikende gevolge op die gemeenskap, vee en voedselsekuriteit op nasionale vlak. ”
Astral is Lekwa plaaslike munisipaliteit se grootste kliënt en het tot op datum al hulle rekeninge aan die munisipaliteit betaal. Regstappe sal geneem word indien dit die onderneming gaan benadeel.
Gegewe die grootte van Astral se Goldi-verwerkingsaanleg en die Meadow Feeds-meule in die dorp (die grootste voermeule op die vasteland), asook al Astral se braaikuikenplase in die Standerton-omgewing, maak dit Astral die grootste werkgewer in Standerton. Astral se bedrywighede in die streek gee aan 4 115 mense werk.
As Eskom die krag amptelik afsny sal Astral met 11,5 miljoen hoenders sit wat hulle nie sal kan voer nie.
Chris sê verder: “Ons praat tans met die betrokke partye oor die implikasies wat die planne van Eskom sal hê. Ons erken dat Eskom die reg het om betaling vir elektrisiteit te ontvang, maar ons het ons rekeninge aan die munisipaliteit betaal.”
Bron: Uitgereik deur Keyter Rech Investor Solutions vir ASTRAL foods