Categories: NewsPublished On: 1st June 2017

SHIRAZ-sterre vir 2017 aangekondig

By 3 min read
602 words

shiraz

ʼn Dosyn voortreflike Shiraz-wyne en drie indrukwekkende Shiraz-versnitte het die kollig gehaal tydens die vyfde jaarlikse Shiraz Challenge toekenningseremonie gehou op 31 Mei by die Rhebokskloof Wynlandgoed in Paarl. Shiraz-liefhebbers kan met ʼn geruste hart hul visier stel op hierdie uitskieters wanneer hulle weer voor die oormag van wyne op die rak van enige winkel te staan kom.

Volgens SA Shiraz voorsitter, Edmund Terblanche, het sowat 220 wyne vanjaar meegeding vir die guns van die beoordelaars – ʼn volgehoue styging in aantal inskrywings sedert die begin van die kompetisie in 2013. “Aanvanklik het ons slegs op Shiraz gefokus, maar reeds in jaar twee besluit dat wynmakers hulle beste vesnitte ook moet inskryf aangesien hierdie kompetisie ʼn omvattende viering van hierdie edelkultivar is,” sê hy. “Ons ervaar ʼn volgehoue groei in die versnit-kategorie – nie slegs vir die Rhône-styl wyne nie, maar vir al die samestellings waarin Shiraz die hoofrol speel.”

En 2017 se top Shiraz-wyne is en oesjaar:

Cederberg Shiraz – 2015

D’Aria The Soprano Shiraz – 2015

Eagle’s Nest Shiraz – 2014

Fairview Beacon Shiraz – 2014

Fairview Swartland Shiraz – 2014

Flagstone Dark Horse Shiraz – 2013

KWV Cathedral Cellar Shiraz – 2015

La Motte Pierneef Syrah Viognier – 2015

Rustenberg Buzzard Kloof Syrah – 2015

Saronsberg Shiraz – 2015

Strandveld Syrah – 2013

Wildekrans Barrel Select Reserve Shiraz – 2015

Top 3 Shiraz-versnitte:

Bellingham The Bernard Series SMV – 2014

Rustenberg Stellenbosch RM Nicholson – 2015

Saronsberg Full Circle – 2015

Teenwoordiges kon tydens die seremonie die 25 Shiraz finaliste en die top 10 Shiraz versnitte proe terwyl die wenners tydens middagete voorgesit is.

Toppresterende produsente – hier’s die statistiek

Shiraz SA het ook ʼn handvol kelders vereer vir hul volgehoue prestasies oor die verloop van die eerste vyf jaar van die kompetisie – gebaseer op hulle aantal wenwyne en finaliste: Cederberg, KWV, Fairview, Eagles’ Nest en Saronsberg.

  • Slegs twee produsente, Cederberg en KWV, het jaarliks vir hulle wyne ʼn plek op dié gesogte top Shiraz-lys verseker.
  • KWV is die enigste kelder wat ʼn duo van toekennings in drie opeenvolgende jaar kon wen: 2x Shiraz wenners in 2014, 2x Shiraz versnit wenners in 2015 en 2x Shiraz wenners in 2016.
  • Saronsberg en Fairview het elk reeds vyf trofeë ingepalm sedert die ontstaan van die kompetisie.
  • Eagles’ Nest spog met ʼn wenner of finalis in elke jaar van die kompetisie.

ʼn Gedugte span beoordelaars

Agt vooraanstaande beoordelaars, met Dr Andy Roediger aan die hoof, het verantwoordelikheid geneem vir die streng beoordelingsproses. Vir Roediger het ʼn ligte belangstelling in wyn en ʼn gevolglike wynkursus by die Wynakademie, daartoe gelei dat hy begin het om sy eie wyn maak. Hy het ook intussen sy Kaapse Wynmeestertesis voltooi met die tema: Fenoliese rypheid in Suid-Afrika. Hy deel hierdie kundigheid met talle toonaangewende wynmakers deur fenoliese rypheid-analises in sy laboratorium te doen.

Die res van die beoordelaarspan sluit in: Charles Hopkins (De Grendel keldermeester), Cathy van Zyl (Britse Wynmeester), Pearl Oliver (hoof-sommelier by die Taj Hotel in Kaapstad), Edmund Terblanche (La Motte keldermeester en Shiraz SA voorsitter), Samarie Smit (wynskrywer en redakteur van Die Burger: Versnit, en ʼn gereelde beoordelaar by Veritas en die SA Jongwynskou) en Maryna Huysamen (Kaapse Wynmakersgilde protégé). Huysamen se insluiting as protégé bied die nodige blootstelling en dien as opleidingsgeleentheid vir haar as toekomstige beoordelaar.

Internasionale wynbeoordelaar Claus Fischer het vanjaar vir die eerste maal by die span aangesluit. Fischer wend sy akademiese agtergrond in chemie in die wynomgewing aan en het onder andere ʼn aroma-wiel vir Duitse wyne ontwikkel. Die indrukwekkende spoed waarmee die proeë plaasgevind het en die hoë standaard van die puntetoekenning en -terugvoer het hom beïndruk.

Die bemarking en verkope van gemengde pakke van die wenwyne word deur CyberCellar hanteer. Indien jy ʼn passie vir Shiraz het en jou wynversameling wil aanvul, besoek hulle by www.cybercellar.co.za.

Uitgereik deur  Shiraz SA

 

0
Views: 271Comments Off on SHIRAZ-sterre vir 2017 aangekondig

Deel hierdie artikel.

0