Minister swyg oor plaasmoorde

Fikile-Mbalula
“Terwyl ek in die Parlement sit en luister na die minister van Polisie, Fikile Mbalula, se begrotingsrede en kennis neem van die wreedaardige misdade teen ons mense, kon ek nie verstaan waarom die Minister swyg oor die onaanvaarbare en barbaarse moorde op boere en plaaswerkers nie,” sê Kobus Breytenbach, Voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee.
Breytenbach sê “dit het gevoel asof die boerderygemeenskap se bydrae tot nasiebou en die ekonomie, asook werkskepping, nie vir die minister en die regering belangrik is nie. Agri SA ondersteun die polisie se benadering tot die implementering van die Landelike Beveiligingstrategie en ons is van mening dat die minister ‘n gulde geleentheid gehad het om planne rondom die daarstelling van ‘n landelike polisiëringskomponent, soos beoog in die Landelike Beveiligingstrategie, aan te kondig. Hierdie is ‘n aangeleentheid wat Agri SA met polisiebestuur bespreek het, waar ons ook gevra het dat sodanige komponent so spoedig moontlik ingestel word.”
“Agri SA waardeer die oomblik van stilte wat die minister van Landbou, Bosbou en Visserye aangevra het, asook die kommentaar tydens sy begrotingsrede dat boere en plaaswerkers beskerm moet word,” sê Breytenbach.
Roof en gewapende roof is misdade wat merendeels teen die boeregemeenskap gepleeg word en Agri SA verwelkom dus die minister se aankondiging van die National Trio Crimes Task Team om die polisie te reaksie op sodanige misdade te integreer. Ons doen ‘n beroep op die minister om te verseker dat hierdie taakspan ook uitgebrei word na die landelike boerderygemeenskap.
Die minister se aankondiging oor die aanskaffing van meer as 3 000 voertuie om tekorte in die provinsies aan te spreek is ‘n positiewe stap. Voertuigtekorte het in die verlede misdaadbestryding en dienslewering gekortwiek en het ‘n rol gespeel in die beperking van die implementering van die Landelike Beveiligingstrategie. Agri SA is bemoedig deur hierdie aankondiging en glo dat dit dienslewering kan verbeter.
Die uitbreiding van die Openbare-orde Polisiëringseenheid en die toename in personeelgetalle is ook deur Agri SA verwelkom. Die rol van hierdie eenheid om geweld en grootskaalse grondbesettings te hanteer moet nooit onderskat word nie, soos die goeie werk wat hulle onlangs gedoen het om verdere geweld in Coligny te voorkom.
Die tekort aan voertuie en die uitbreiding van die Openbare-orde Polisiëringseenheid is aspekte wat Agri SA op verskeie vlakke met die polisie bespreek het en die minister se aankondigings kan ‘n positiewe impak op polisiëring en misdaadbestryding hê. “Ons glo dat dit ook die situasie in landelike boerderygebiede sal wees,” sê Breytenbach.
Uitgereik deur Agri SA