Categories: NewsPublished On: 12th October 2011

Zonnebloem-se-wynmakers-is-‘n-span-met-‘n-plan

By 4 min read
Annelie Viljoen, Deon Boshoff, Bonny van Niekerk en Elize Coetzee is Zonnebloem se gedugte wynmaakspan.

Zonnebloem se wynmaakspan is vas van plan om te sorg dat nóg meer mense aanhangers van van hulle gesogte wyne word. Zonnebloem se mense vertel van hulle eiesoortige benadering tot wynmaak.

“Daar bestaan by baie mense ʼn voorliefde vir Zonnebloem en ons wil dít beskerm, al het wynliefhebbers deesdae ʼn veel groter verskeidenheid om van te kies,” sê Deon Boshoff, die keldermeester van Zonnebloem. “Ons wil mense meer balans en elegansie bied maar ook met ’n suiwerder druiwesmaak oorwen.”
 
Hy word ondersteun deur van twee wynmakers en ’n wingerdboukundige, al drie vroue. Bonny van Niekerk maak die rooi wyne,  Elize Coetzee die wit wyne en Annelie Viljoen werk as wingerdboukundige ten nouste met die wynboere saam. 
 
Deon sê hulle sukses is die gevolg van ’n veel beter begrip van die individuele wingerdblokke waarvandaan die druiwe kom, en beter mikrobestuur daarvan in die wingerde en kelder.
 
“Ons is dalk nog jonk, maar het groot agting vir Zonnebloem se lang geskiedenis” sê hy.
 
“Dis vir ons ’n voorreg om met die talle voorsieners wat druiwe aan die kelders lewer saam te werk. Sommige van hulle doen dit al drie of vier geslagte. Hulle verstaan ons behoeftes en terselfdertyd leer ons gedurig by hulle. Hulle bied uitgebreide ervaring en tradisie en ons dra moderne idees by en gesamentlik werk dit uitstekend. 
 
Annelie het as wingerdboukundige reeds vier oeste by Zonnebloem agter die rug. Die meeste van van haar druiwe kom uit die Stellenbosch-omgewing uit – van Helderberg tot by Stellenboschkloof, Jonkershoek, Devon Valley, Bottelary en Lynedoch. Sy kan egter ook druiwe van Darling, Malmesbury en die Perdeberg-gebied bekom, en kan dus die heel beste druiwe vir Zonnebloem uit meer as 330 wingerdblokke kies – elk met sy eie karakter.
 
Al die druiwe word met die hand gepluk.
 
“Die voordeel van ’n lang verhouding met produsente is dat ʼn mens met verloop van tyd die beste blokke vir ons doeleindes kan identifiseer,” sê sy. “Die talle verskillende terreine, grondsoorte, hellings, kultivars, klone, onderstokke en opleistelsels asook mesoklimate skep ’n baie groot verskeidenheid waaruit ons die boustene vir elkeen van ons wyne kies. Ons hou die wingerde fyn dop, en weet watter blokke mekaar aanvul. Gevolglik kan ons hulle soms gelyk oes, en dit help die versnyding in die kelder.”
 
Annelie sê daar bestaan groot kameraderie onder die boere, maar ook gesonde mededinging. Zonnebloem beloon elke jaar die beste produsent. “Ons stel die maatstawwe só op dat gehalte, vernuwing en diensvlakke gedurig verbeter, en dus kry ons die heel beste druiwe. Ons maak nou vyf wyne in beperkte hoeveelhede, en dis ’n goeie aanduiding dat ons toegang tot waarlik voortreflike druiwe kry.”
 
Elize sê die noue samewerking met boere, en beter kennis van die eienskappe en mikro-klimate van terreine, maak beplanning van wyne in die wingerde moontlik. “Ons orkestreer die pluk van die druiwe beter en kry dit wanneer hulle op hul rypste is sodat ons al ons aandag aan wynmaak en versnyding skenk. Ons wyne moet steeds interessant en veelvlakkig wees, maar terselfdertyd ook meer subtiel.”
 
Die houtbehandeling van Zonnebloem se chardonnay is byvoorbeeld aangepas sodat die druiwe-, sitrus- en mineraalsmake duideliker na vore kan kom. Bonny van Niekerk, wat al van 2007 die rooi wyne maak, sê die vyf oesjare het haar kans gegee om die wingerde te verstaan en te weet wat om te verwag. “Ons gee die kultivarkarakters kans om na vore te kom. Ons het ons tannien- en houtbestuur aangepas om ’n meer fluweelsagte profiel te skep, maar sonder om die vol, ryk druiwesmaak van ons rooi wyne prys te gee.”
 
Deon verduidelik: “Wanneer jy ’n Zonnebloem-wyn van ’n jonger oesjaar proe, gaan jy geen groot verskil agterkom nie, maar wel ’n groter lewenskragtigheid bespeur. Ons werk is nog nie naastenby klaar nie – ons werk met ‘n plan.”

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0