Categories: NewsPublished On: 13th May 2011

Wynbedryf tevrede ondanks moeilike seisoen

By 3 min read

Die wynbedryf het, nieteenstaande moeilike produksietoestande later in die seisoen, min of meer dieselde grootte oes as verlede jaar behaal. VinPro, die wynprodusente organisasie, sê in sy oesverslag dat die 2011-seisoen gekenmerk  is deur groot klimaatskommelinge. 

Die hoë verwagtinge vroeg in die seisoen het stelselmatig afgeneem soos wat die langdurige droë en warm somer, koue in die blomtyd, ’n winderige Desember en grootskaalse vloedskade teen die Oranjerivier, onderskeidelik hulle merk op die oes gelaat het.  
 
Ondanks al die uitdagings en terugslae is die wynbedryf tog in sy skik met die gehalte van die wyne en die feit dat die oes ongeveer dieselfde grootte gaan wees as dié van 2010. Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is danksy uiteenlopende verbouingsgebiede, in staat om groot fluktuasies in verbouingstoestande te buffer. 
 
Oesgrootte
 
Die April-skatting vir die wyndruifoes word op 1 279 017 ton geraam. Dit is 1,4% hoër as die 2010-oes. Met die uitsondering van Oranjerivier, Breedekloof en Worcester met kleiner oeste, behoort die ander verbouingsdistrikte groter oeste te hê. 
 
Na verwagting sal die oes vir sap, konsentraat en wyn vir brandewyn en distilleerwyn 992,5 miljoen liter beloop, bereken teen  ʼn gemiddelde verhaling van 776 liter per ton druiwe. Dit is 1% hoër as die wynoes in 2010. 
 
Produksietoestande
 
Hoewel die 2010 winter laat aangebreek het, is genoeg koue-eenhede einde Mei en begin Junie opgebou om gelyke uitbot te verseker. Die winterreënval was egter heelwat laer as die langtermyngemiddeld en weens ’n warm Augustus het wingerde tussen ‘n week en twee weke vroeër gebot. 
 
Die begin van die groeiseisoen was koel met heelwat bewolkte dae en gereelde reënbuie. Dit het produsente genoodsaak om voorkomende swambeheer toe te pas. 
 
Stormwinde het weggebly vroeg in die seisoen. Die suidoostewind het in Desember gewaai, maar min skade is gerapporteer. 
 
Koue en ongunstige weer tydens blomtyd het tot ongelyke en swak korrelset gelei by kultivarsoorte en wingerde wat later bot. Dit het ’n wesenlike invloed op die oesgrootte en gehalte gehad.  
 
Feitlik geen reën is vanaf middel November aangeteken nie en hitte-toestande vanaf Januarie het vernuftige besproeiingsbestuur van boere geverg. Droëlandwingerde het vanweë die droogte swaar gekry tydens die rypwordingstydperk. 
 
Verskeie  kultivars het gelyktydig ryp geword wat baie druk op kelders se inneemvermoë geplaas het.
 
In die  Oranjerivier-distrik het vloede en aanhoudende reën die pars baie bemoeilik en is groot oesverliese aangeteken.  
 
Gehalte
 
Druifontledings het aansienlik gewissel met sure wat by tye vinnig gedaal het en suikervlakke wat weer vinnig toegeneem het. Die kleur van die rooi-kultivars is egter goed en ‘groen’ geure was vanjaar reeds vroeg afwesig. 
 
Hoewel geure by wit-kultivars soms nie aan verwagtinge voldoen het nie, word die witwyne in geheel steeds as mooi en gebalanseerd beskryf. Die kleiner korrelgroottes by rooi druiwe het weer aanleiding gegee tot intense kleur, sagte tannien en goeie struktuur. 
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0