Categories: NewsPublished On: 29th August 2011

Wye internasionale belangstelling vir TLU SA kongres

By 2 min read
323 words

Groot belangstelling heers vir TLU SA se nasionale jaarkongres wat hierdie week in Pretoria plaasvind.

“Die groot belangstelling van buitelandse instellings en ambassades het ons amper onkant gevang”, sê mnr Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder. “TLU SA het die afgelope jaar baie na die buiteland uitgereik. Veral waar dit hierdie week die tugverhoor is van Julius Malema, die man wat boeregrond wil nasionaliseer en myne wil onteien, wil buitelandse afvaardigings ‘n volle prentjie probeer vorm van die situasie in Suid-Afrika en of dit nog veilig is om op ekonomiese terrein in Suid-Afrika betrokke te bly en of moontlike beleggings in die land nog veilig is.”

Mnr Van Zyl reken dat daardie mense nie teleurgesteld gaan wees in TLU SA se kongres nie.  “Ons kyk inderdaad hierdie jaar baie wyer as net die prentjie in Suid-Afrika.  Ons gaan om die lesse te leer waarvoor ander lande reeds ‘n duur prys betaal het en wat ons wil probeer voorkom. Ons gaan die boere as minderheid onder die loep neem en dan sal ons baie praat oor die ekonomie, aangesien landbou ‘n suiwer ekonomiese aktiwiteit is. Uiteindelik moet kongresgangers, ook die regeringsafvaardigings en buitelandse verteenwoordigers self die vraag beantwoord of landbou vriend of vyand is.”

TLU SA sal ook by sy kongres sy nuwe leiers kies.  Die huidige president, mnr Ben Marais het sy uittrede aangekondig om gesondheidsredes. “Daarbenewens kyk TLU SA nou al geruime tyd na verbeterde modelle in sy eie strukture ten einde nog beter diens aan sy lede te lewer en om te verseker dat voedselsekerheid nie verder in gedrang kom as wat dit reeds gekom het deur die regering se verpolitisering van landbou nie,” sê mnr Van Zyl. Die kongres vind Woensdag en Donderdag plaas.

Henk van de Graaf, Bennie van Zyl en Chris van Zyl van TLU SA se hoofkantoor in Silverton, Pretoria.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0