Wêreld sien plaasmoorde
TLU SA ontvang tans toenemend navrae vanaf internasionale instellings oor plaasmoorde in Suid-Afrika.
Die navrae spruit uit ’n besoek wat TLU SA se assistent-hoofbestuurder: Kommunikasie, mnr Henk van de Graaf, aan Europa gebring het. Mnr Van de Graaf is so pas terug van ’n weeklange inligtingsbesoek aan Europa, waarin hoofsaaklik klem gelê is op plaasmoorde in Suid-Afrika. Die hoogtepunt van sy toer was ’n besoek aan die Europese Parlement waar hy die hoofspreker was by ’n openbare vergadering van Europese Parlementslede.
In sy toespraak het mnr Van de Graaf daarop gewys dat toestande in Suid-Afrika selfs slegter is as in Zimbabwe. In Suid-Afrika is tot dusver 1 554 boere vermoor, teenoor die 24 in Zimbabwe.
“Instellings soos die EU was bereid om persoonlike sanksies teen mnr Robert Mugabe en sy kabinetslede op te lê. In die lig daarvan dat sake in Suid-Afrika selfs slegter verloop as in Zimbvabwe, behoort die EU dalk ook oorweging te skenk aan die moontlikheid om soortgelyke persoonlike sanksies teen mnr Zuma en sy kabinetslede in te stel, omdat hulle ook blatant weier om genoeg aan hierdie probleem te doen. Bowendien behoort plaasmoorde internasionaal verklaar te word tot ’n Misdaad teen die Mensdom,” het mnr Van de Graaf gesê.
Na die besoek aan die Europese Parlement, asook die inhandiging van ’n klagte van Volksmoord teen die SA regering by die Internasionale Strafhof in Den Haag, het internasionale media en die sosiale media deeglik begin kennis neem van die situasie in Suid-Afrika rakende veral plaasmoorde. Sedertdien ontvang TLU SA se hoofkantoor al hoe meer inligting van beoogde aksies oor plaasmoorde en volksmoord, nie net in Europa nie, maar ook Amerika, Kanada en Australië.
TLU SA se selfoonlyn vir ondersteuning aan die slagoffers van plaasaanvalle lok ook die gewenste reaksie. Mense kan ’n klein bydrae van R10 maak deur die woord TLUSTOP te stuur na 48716.