Wolpryse-styg-verder
Die wolmark het sy kragtoer vandeesweek voortgesit en Cape Wools se Merino-aanwyser het ná verlede week se skerp styging met ’n verdere 8,4% verstewig tot R76,50/kg (skoonwol).
Die aanwyser is nou 32% hoër as die openingsvlak en amper 18% stewiger as op dieselfde veiling verlede seisoen.
In Australië het die aanwyser tot sy hoogste vlak in 18 jaar gestyg. Die voortgesette sterk vraag na fynwol (19,5 mikron en fyner) en die beter style wol uit veral Italië en van ander Europese kopers, en kommer oor die aanbod bly die grootste faktore wat die mark aandryf.
Die pryse van alle langwol het gestyg, maar die grootste stygings was vir die fyner mikronkategorieë (19 mikron en fyner) met skoonwolpryse wat met meer R100/kg (skoonwol)gestyg het.
Die rand was 1% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige veiling, terwyl dit met 4,5% teenoor die euro teruggesak het.
Altesame 13 614 bale is aangebied waarvan 98% verkoop is.
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was soos volg: 19 mikron styg met 13% tot R104,12/kg, 20 mikron verstewig met 7% tot R80,99/kg, 21 mikron verbeter met 8% tot R75,29/kg en 22 mikron was 4,6% duurder op R73,22/kg.
Sowat 7 500 bale sal op volgende Woensdag se veiling aangebied word.