Wolpryse skiet die hoogte in
Op die eerste wolveiling in Port Elizabeth vanjaar het Cape Wools se Merino-aanwyser tot die hoogste vlak óóit gestyg. Die aanwyser het met 7,1% tot R105,15/kg (skoon) gestyg.
Volgens Ona Viljoen van Cape Wools is dit ook 49% hoër as op dieselfde veiling verlede jaar en 1% stewiger as die vorige hoogste vlak wat in die eerste week van November verlede jaar aangeteken is. Die groot styging in pryse was in navolging van die skerp styging in pryse in die Australiese mark, wat ’n week later as Suid-Afrika gesluit het. Dié styging is op vandeesweek se veilings voortgesit.
By die Port Elizabeth-veiling was 12 330 bale te koop aangebied, waarvan 96% verkoop is. Daar was sterk mededinging in die verskillende sektore van die handel en die pryse van gehalte vagte het tot ver bokant R100/kg gestyg. In die kategorie vir 22 mikron was daar verbetering van tot 10%.
Die rand was 1,3% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die gemiddelde koers op die vorige veiling, maar was 3,8% sterker teenoor die euro.
Die gemiddelde skoonwolpryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 19 mikron verbeter met 6,6% tot R121,11/kg, 20 mikron was 7,8% duurder op R114,62/kg, 21 mikron styg met 6% tot R109,51/kg en 22 mikron verstewig met 10,2% tot R107,58/kg.
Sowat 14 000 bale sal volgende week aangebied word.