Categories: NewsPublished On: 26th May 2011

Wolpryse hol skoon weg

By 1 min read

Wolpryse het op die voorlaaste veiling van die seisoen die hoogte ingeskiet en Cape Wools se Merino-aanwyser het tot sy hoogste vlak dié seisoen tot R95,57/kg (skoon) gestyg. 

Dit is nie net 65% hoër as met die openingsveiling in Augustus verlede jaar nie, maar is ook die hoogste vlak in meer as ’n dekade.

Die swakker rand, waarvan die gemiddelde koers 4% laer teenoor die Amerikaanse dollar was vergeleke met die vorige veiling twee weke gelede, het die mark ook ondersteun. In Australië het die aanwyser met bykans 1% gestyg.

Daar was ’n goeie vraag na gehaltewol. Kopers sê kommer oor die dalende aanbod, veral die tekort aan langwol, is tans die grootste dryfkrag in die mark.

Altesame 8 649 bale is aangebied waarvan 95% verkoop is. 

Hierdie was ook die eerste veiling waar die gemiddelde pryse van die lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) vir 19 tot 21 mikron hoër as R100/kg was. 

Die pryse was soos volg: 19 mikron styg met 11,7% tot R123,29/kg, 20 mikron verbeter met 9,9% tot R101,50/kg, 21 mikron was 15,3% duurder op R100,17/kg en 22 mikron styg met 16,9% tot R96,28/kg. 

Die laaste veiling van die seisoen word op 8 Junie gehou wanneer sowat 12 500 bale aangebied sal word.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment