Wolprys skep asem
Wolpryse het afgeneem op vandeesweek se Port Elizabeth-veiling. Die Cape Wools Merino-aanwyser het met 4,6% teruggesak in vergeleke met die vorige veiling twee weke tevore. Die prys het gesluit op R81,97/kg (skoonwol).
Die sterker rand, wat sedert die vorige veiling met 3,1% teenoor die Amerikaanse dollar versterk het, het die mark onder druk geplaas. Boonop was die verkooppersentasie laer as gewoonlik. Slegs 86% van die 10 520 bale wat aangebied is, is verkoop.
Dit is in teenstelling met Australië waar die markaanwyser die afgelope twee weke met meer as 4% tot sy hoogste vlak die seisoen gestyg het.
Plaaslike mededinging vir langwol van gehalte was nietemin goed en ’n uitstekende prys van R115/kg (vetwol) is behaal vir ’n baal van meneer PD Jacobs van Trompsburg van 15,2 mikron. Dit is effens laer as die seisoen se hoogste prys van R118,80/kg wat op 9 Februarie vanjaar vir ’n baal van 16,2 mikron betaal is.
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was soos volg: 19 mikron sak met 3,7% terug tot R108,98/kg, 20 mikron verswak met 6,6% tot R84,99/kg, 21 mikron was 5,1% goedkoper op R81,17/kg en 22 mikron daal met 1,3% tot R82,51/kg.
Op volgende week se veiling sal sowat 9 500 bale aangebied word.