Categories: NewsPublished On: 10th February 2011

Wolprys-nóú-die-hoogste-ooit

By 1 min read

Wolpryse het op vandeesweek se veiling weer ‘n stewige styging aangeteken en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 4,1% tot ’n hoogtepunt van R83,58kg (skoon) gestyg.

Dit is 44,6% hoër as die openingsveiling. Dit beteken ook dat die aanwyser sedert die eerste veiling in Januarie met 18% verstewig het.
 
In Australië het die mark sedert verlede Woensdag met 2,4% verbeter.
 
Die groter vraag na wol, kleiner aanbiedings en vrese oor die beskikbaarheid van wol die res van die seisoen is die belangrikste redes vir die prysstygings. ’n Effens swakker rand het pryse ook ondersteun.
 
Fynwol (19 mikron en fyner) was dié week ook weer goed in aanvraag en het die grootste stygings aangeteken. Die hoogste pryse sover dié seisoen is aangeteken toe ’n baal ML280 van 16,2 mikron van mnr. P.W.B. Uys van Wakkerstroom, Mpumalanga, vir R118,80/kg (vetwol) verkoop is.
 
Dié week se aanbod was 6 973 bale waarvan 97% verkoop is.
 
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was soos volg: 19 mikron styg met 9,8% tot R106,12/kg, 20 mikron verstewig met 3,3% tot R87,68/kg, 21 mikron was 5,8% duurder teen R82,88/kg en 22 verbeter met 0,4% tot R80,57/kg. 
 
Sowat 10 500 bale sal volgende week aangebied word.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0