Wolprys laer maar moedig
![]() |
Wolpryse in Australië het verlede week verder gedaal en die plaaslike mark het dié neiging nagevolg. Die rand wat versterk het, het bykomende druk op die Suid-Afrikaanse prys geplaas.
Cape Wools se Merino-aanwyser het op die veiling na die Paasreses met 1,9% tot R83,71/kg (skoonwol) teenoor die veiling van drie weke gelede teruggesak. Goeie gehalte vagwol het nieteenstaande die algemene laer prysneiging goeie pryse behaal.
Die gemiddelde pryse van lang kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) vir die onderskeie mikrongroepe het gewissel:
• 19 mikron het met 1,4% gedaal tot R113,27/kg
• 20 mikron het met 0,8% gestyg tot R90,93/kg
• 21 mikron het met 0,9% gedaal tot R84,75/kg
Op die veiling is 93% van die10 812 bale wat aangebied is, verkoop.
Die wolwaardeketting
Woolnews.net berig dat die hoë wolprys van die afgelope maande baie druk op wolverwerkers en vervaardigers van wolprodukte plaas weens die prysweerstand van kleinhandelaars teen die prysverhogings van klaarprodukte.
Gelukkig is die vraag na klere wat van fynwol gemaak word goed en is die kleinhandelaars minder traag om die hoër prys aan verbruikers deur te gee. Wol is nie die enigste vesel waarvan die prys drasties gestyg het nie. Die prys van mededingende produkte soos katoen, sy en kunsvesel het ook drasties toegeneem.
Die matbedryf beleef ‘n moeiliker tydperk as die klerebedryf aangesien die vraag na wolmatte veel kleiner as die vraag na wolklere is. Dié bedryf word ook negatief beïnvloed deur die wêreldwye trae eiendomsmark. Die aansienlike styging in die wolprys het ‘n kleiner invloed op die prys van klere as wat dit op die prys van matte het. Dit is omdat die wolkoste-gedeelte van klere ‘n baie kleiner deel van die algehele vervaardigingkoste uitmaak as dié van matte.
Selfs mode-ontwerpers het al planne beraam om hoë koste van vesel se invloed op hulle winsmarges te verminder. ‘n Bekende Australiese ontwerper het onlangs sy vloeiende ontwerpe en los hangende tooisels kortgeknip – die resultaat: reguit, korter rokke met ‘n aansienlike besparing op materiaal.
Uiteindelik plaas die hoë wolprys klerevervaardigers in die versoeking om die wolkomponent van hulle klere te verminder, wat ‘n verlaging van gehalte tot gevolg kan hê. Dit kan die wolbedryf knou aangesien verbruikers gewoond geraak het aan hoë gehalte wolprodukte en nie met swakker gehalte gediend sal wees nie.