Categories: NewsPublished On: 1st December 2011

Wolmark-styg-voor-Kersreses

By 1 min read
187 words
Wolpryse het ondanks ’n sterker rand op vandeesweek se veiling gestyg en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 4,5% tot R101,65/kg vir skoonwol verbeter.
 
Dié oplewing word toegeskryf aan groter belangstelling, moontlik met die oog daarop om voorraad vóór die Kersreses aan te vul. Die Suid-Afrikaanse mark het die  Australiese mark nagevolg waar die pryse ook verbeter het. 
 
Die rand het met sowat 1,3% teenoor die Amerikaanse dollar versterk vergeleke met die gemiddelde koers op verlede week se veiling en was ook 1,7% sterker teenoor die Euro. 
 
’n Hoër verkooppersentasie is ook behaal met 97% van die 10 969 bale wat verkoop is.
Lang, vagwol van gehalte was weer hoog in aanvraag en die gemiddelde pryse vir sommige mikronkategorieë het met tot 5% gestyg.
 
Die gemiddelde skoonwolpryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 19 mikron styg met 3,2% tot R118,76/kg, 20 mikron was 3,8% duurder op R108,85/kg, 21 mikron verbeter met 5,2% tot R107,93/kg, maar 22 mikron daal met 1,3% tot R99,47/kg. 
 
Sowat 14 000 bale sal volgende week, die laaste veiling voor die Kersreses, aangebied word. 
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0