Wolmark draai weer boontoe
Na verlede week se daling in wolpryse het die wolmark weer vandeesweek sy kop opgetel en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 2,6% tot R84,10/kg skoonwol verbeter. Hoewel dit nie die hoogste vlak vir die seisoen is nie, is dit steeds 45,6% hoër as die openingsveiling.
Ona Viljoen berig dat daar lewendige belangstelling vir gehaltewol was, veral vir die goeie tipes fynwol en die vorige rekord vir die hoogste prys dié seisoen is verbeter. Twee bale BH-wol van 15,8 mikron van mnr Johan Klingenberg van Wakkerstroom is vir ’n vetwolprys van R121/kg verkoop. Die vorige rekord was R118/kg. Hy het ook die naashoogste prys van R120,10/kg (vetwol) behaal vir ’n baal van 16,2 mikron.
Die effens swakker rand, wat met 1,1% teenoor die Amerikaanse dollar verswak het, het die mark ook ondersteun. ’n Hoë verkooppersentasie is behaal en 97% van die 8 939 bale wat aangebied is, is van die hand gesit.
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was heelwat hoër as die aanwyser omdat die swakker tipes die aanwyser afgetrek het.
Die pryse van die MF5-tipes was soos volg: 19 mikron styg met 5,8% tot R115,35/kg, 20 mikron verbeter met 5,2% tot R89,39/kg, 21 mikron was 4,6% duurder op R84,92/kg en 22 mikron styg met 5,6% tot R87,14/kg.
Sowat 6 000 bale sal volgende week onder die hamer kom.
In Australië het markaanwyser tot sy hoogste vlak dié seisoen verbeter.