Wolmark bereik rekordvlak
Die wolmark het dié week tot sy hoogste vlak ooit gestyg toe Cape Wools se Merino-aanwyser het met 2,8% verstewig het en die aanwyser op R80,29/kg gesluit het.
Dit is 38% hoër as die openingsveiling en ’n styging van 30% teenoor dieselfde veiling verlede seisoen. Dit beteken ook dat die aanwyser sedert die eerste veiling in Januarie met bykans 14% verstewig het.
In Australië, waar die weeklikse aanbiedings kleiner as normaalweg is as gevolg van vertragings met die skeer en die vervoer van wol weens die reën in sekere gebiede, het die aanwyser met 3,2% gestyg.
Die groter wêreldvraag na wol en ’n verwagte verdere daling in die produksie van Merinowol dié seisoen is van die belangrikste redes vir die prysstygings.
Dié week se aanbod was ook baie klein. Net 6 525 bale is aangebied waarvan 96% verkoop is.
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was soos volg: 20 mikron verstewig met 4,1% tot R84,87/kg en 21 mikron styg met 3,1% tot R78,37/kg. Daar was nie kwotasies vir die ander mikronkategorieë nie weens die klein aanbieding.
Sowat 6 500 bale sal volgende week aangebied word.