Categories: NewsPublished On: 15th August 2011

Wolboere-wonder-oor-nuwe-seisoen

By 2 min read
348 words

Die 2011/12-wolseisoen open Woensdag (17 Augustus) wanneer sowat 14 000 bale wol per veiling in Port Elizabeth aangebied sal word. Ona Viljoen van Cape Wools sê die seisoen open te midde van groot onsekerheid op wêreldmarkte oor die stand van die wêreldekonomie en die skuldlas van Amerika en lande in die Euro-sone, wat ’n dempende uitwerking op pryse kan hê. In Australië, waar veilings verlede week begin het, het die mark teruggesak.  Die plaaslike kopers verwag egter dat die mark relatief stewig sal bly.

Die afgelope seisoen was een van die bestes in dekades. Die sterk vraag na wol het pryse skerp laat styg en Cape Wools se Merino-aanwyser het ondanks ’n sterk rand met 68% gestyg om op R97,29/kg (skoonwol) te sluit. Dit is die hoogste vlak sedert die tagtigerjare. In Amerikaanse dollars bereken, was die styging 82%.

Altesame 284 826 bale is aangebied waarvan 99% verkoop is. Die totale verkoopswaarde was R1,67 miljard, wat 30% hoër as die vorige seisoen was.
Wolproduksie het egter met 4,4% tot 46,1 miljoen kg teruggesak.  

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het ’n ooreenkoms met die Sjinese owerhede bereik om die wagperiode vir die uitvoer van onverwerkte wol uit distrikte wat met slenkdalkoors besmet was, na drie maande te verkort en wag nou op finale diplomatieke bevestiging van Sjina.

Die Departement se vereis tans dat die wagperiode begin nadat ’n distrik vry van die siekte verklaar is, terwyl die Sjinese ingestem het dat die wagperiode ’n aanvang kan neem drie maande nadat die laaste uitbreking in ’n distrik aangemeld is. Daar word gehoop dat die Departement oorreed sal kan word om tot dié datum in te stem.

Ondertussen kwalifiseer alle wol wat vanjaar geskeer is en uit onbesmette distrikte kom vir uitvoer na Sjina. Wol wat egter geskeer is terwyl ’n distrik nog as besmet verklaar is, sal nie kwalifiseer nie. Dit kan egter steeds na ander lande uitgevoer word.

Cape Wools het ’n beroep op produsente gedoen om hul vee so spoedig moontlik teen slenkdalkoors in te ent.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0