Categories: NewsPublished On: 31st March 2011

Wol bly gewild

By 1 min read
Wol het sy wegholpryslopie hierdie week voortgesit ondanks die beperkings wat weens bek- en klouseer en slenkdalkoors op die uitvoermark geplaas is. Cape Wools se Merino-aanwyser het met 0,8% teenoor verlede week gestyg tot R86,26/kg (skoon). Dit is die hoogste vlak dié seisoen en 49% hoër as met die openingsveiling van die seisoen.
 
Ona Viljoen van Cape Wools berig dat pryse egter baie gewissel het en sommige tipes het stewige stygings aangeteken terwyl ander tipes se pryse laer as verlede week was. Daar is 10 646 bale aangebied waarvan 93% verkoop is. In Australië het markaanwyser met 0,5% verstewig.
 
Volgens mev Viljoen het die vraag goed gebly omdat daar wêreldwyd ‘n enorme woltekort is. Die meeste kopers koop ook solank in die hoop dat Suid-Afrika sy status as “vry van bek-en-klou” binnekort sal terugkry en dat hulle dan wol in voorraad het. Daar is ook nog net 5 veilings oor voor die seisoen sluit.
 
Hoewel Sjina nog ‘n probleem met wol uit slenkdalkoors-gebiede het, geld dieselfde beperking nie vir Europa nie, vanwaar die vraag tans baie groot is. 
 
Sy sê daar word ook ’n hele klomp wol gewas en gekam. Dit kan vrylik uitgevoer word omdat alle kieme in die wasproses vrek. 
 
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) het groot verskille getoon: 19 mikron daal met 2,9% tot R113,87/kg, 20 mikron styg met 5,7% tot R91,66/kg en 21 mikron was 0,5% goedkoper op R84,76/kg en 22 mikron styg met 4,6% tot R89,08/kg. 
 
Geen veiling is vir volgende week geskeduleer nie. Die volgende veiling vind op 13 April plaas.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0