Winsgewende skaapboerdery deel 23: Korrekte stertafsit- en kastreringspraktyke verhoog kuddeproduktiwiteit

Docking ring position SM
Sit die stertjies van ooilammers na die derde lit af. Dit sal bydra tot die bekamping van brommeraanvalle en urienbesoedelde wol. Ooie met langer stertjies is geneig om wanneer hulle urineer, die stertjies op te lig sodat hulle weg van hulleself urineer. (Foto: Woolshed.com)
Baie skaapboere is dit eens dat stertafsit en kastrasie nodig is om siektes te voorkom, vir hoër produktiwiteit en goeie kuddebestuur. Dit is egter nodig om praktyke te vind wat so min as moontlik pyn en lyding vir die skape veroorsaak.
Afsit van sterte
Die beste ouderdom vir stertafsit is tussen vyf en sewe dae. Lammers moet verkieslik nie ouer as ses weke wees nie. Die aanbevole lengte van die stert is dat hy lank genoeg moet wees om die vulva by ooilammers te bedek. Dit is ongeveer by die derde of vierde lit (sowat 60 tot 70 mm). Ramlammers moet dieselfde stertlengte as ooilammers hê. Wanneer die stert volgens die aanbevole lengte afgesit word, word die stertspiere nie beskadig nie sodat die lam steeds sy stert genoeg kan beweeg en oplig om die vlieë weg te jaag. Sterte wat te kort afgesit word, genees ook moeiliker. Navorsing toon dat die afsit van lammersterte ’n aansienlike verlaging in brommeraanvalle tot gevolg het en geen negatiewe effek op produksie en lamoorlewing het nie.
- Die beste ouderdom vir stertafsit van lammers is tussen die ouderdom van vyf en sewe dae. (Foto: Woolshed.com)
- Die ooi aan die linkerkant se stert is te kort afgesny. Die geslagsdele is blootgestel aan direkte sonlig wat kanker kan veroorsaak. Die puntjie aan die onderkant van die vulva kry ՚n kanker en dan sprei die urine op haar wol, wat meer brommeraanvalle uitlok. Die ooi regs se stert is bietjie langer afgesit. Dit bedek die geslagsdele en beskerm dit teen sonlig. Die stertjie kan ook bietjie waai en kan dan brommers makliker weghou. Die stertjie maak dit ook baie moeiliker vir bosluise om aan die agterkant aan te heg. Die langer stertjie verminder ook die voorkoms van anale en vaginale prolapse. Dit help dus dat die ooi langer produktief sal wees en dat minder probleme ondervind word. (Foto: NWGA)
Metodes van stertafsit:
- ’n Gasverhitte tang om lammersterte af te sit word as voorkeurmetode aanbeveel. Die metode steriliseer en brand die are op die afgesnyde punt doeltreffend toe.
- Sterte kan ook met ’n skerp mes afgesny word.
- Die eenvoudigste manier om die stert af te sit, is om ’n rekkietang te gebruik om ’n rekkie om die stert te sit. Dié manier is bloedloos. Die stert val binne sewe tot tien dae af. Die oorblywende stert moet lank genoeg wees om ʼn ooi se uitwendige genitalieë en die ram se anus te bedek. Sterte wat te kort afgesit word, beskadig die ringspiere rondom die anus en kan rektale uitsakking veroorsaak.
Voor- en nadele van stertafsit:
- Dit is die mees doeltreffende en ekonomiese manier om brommeraanvalle te bekamp, omdat dit wolbesoedeling met mis beperk en die gebruik van chemikalieë om brommers te beheer verminder. • Die meeste vleisskaapstoetboere beweer dat dit die voorkoms van jou diere verbeter en dus hulle ekonomiese waarde verhoog.
- Dit is voordelig wanneer die skape geskeer en gemikskeer moet word teenoor die met sterte, veral as hulle miskloste bevat.
- In die geval van vetstertskape, soos Karakoel-ooie, raak die wie se sterte afgesit is vroeër in die teelseisoen beset en toon hoër lampersentasie (92,9% teenoor 78,9%) omdat dit makliker vir die ramme is om hulle te dek.
- Dit verbeter ook die karkasgehalte omdat dit vetverspreiding verbeter.
Die meeste voerkrale betaal minder vir lammers met sterte en sulke lammers het ook ՚n laer uitslagpersentasie. Die sterte word nie geëet nie, maar kan ՚n aansienlike gewig hê.
- Soek met een hand albei testikels en trek hulle na die onderkant van die skrotum of sak. (Foto: Infovets. com)
- Neem die rekkietang en plaas die rekkie oor albei testikels en so na as moontlik aan die liggaam. (Foto: Infovets.com)
Risiko’s
Wanneer die stert te kort afgesit word, is daar ՚n hoër voorkoms van rektale prolaps, veral by vleisskape. Kanker kan ook weens sonbrand voorkom by die ooie se vulvas en vaginas as die sterte te kort afgesit word. Lammers kan die klem-in-die-kaak optel nadat sterte afgesit is of ná kastrasie, daarom behoort ooie voor lamtyd ingeënt te word, wat dan immuniteit by lammers verseker.
Kastrasie
Die kastrasie van ramlammers word slegs geregverdig as hulle tot ná seksuele volwassenheid op die plaas gehou word. Merk en kastrasie van lammers moet op die ouderdom van tussen 10 en 14 dae gedoen word. Werk gedurende die koel tyd van die dag en wanneer lammers rustig is. Die gebruik van ’n kastreertang word as voorkeurmetode aanbeveel, mits dit deur ’n bekwame persoon gebruik word. ’n Alternatief is om ’n rekkie om die nek van die skrotum te plaas. Die skrotum sal verdroog en binne twee tot drie weke afval. Dié metode is wel pynlik en behoort vanaf twee weke ouderdom gedoen te word en nie later as ses weke nie.
Voor- en nadele van kastrasie:
- Dit verhoed onoordeelkundige aanteel.
- Dit verhoed ongewenste en seksuele en aggressiewe gedrag.
- Vergemaklik die hantering van hamellammers.
- Hamellammers word vinniger vet.
- Dit vergemaklik die slagproses omdat die vel makliker verwyder word.
- Dit kan akute pyn veroorsaak.
- Daar bestaan ’n moontlikheid van swakker groei ongunstiger voeromset.
- Daar is ook ՚n moontlikheid van besmettings en siektes.
- Die rekkie moet naby die bokant van die skrotum geplaas word, maar moet nie bo die twee rudimentêre spene gaan nie (een word deur die swart pyl geïdentifiseer). (Foto: Infovets.com)
Metodes van kastrasie
Kastering geskied op dieselfde stadium as stertafsit. Dit blyk dat die meeste boere die ruberringmetode verkies. Afhangend van die ouderdom van kastrasie, kan dit vier tot ses weke vir die skrotum neem om af te val. Hierdie tegniek vereis dat die testes so diep as moontlik in die skrotum ingedruk word en dan moet die rekkie so na as moontlik aan die lam se lyf om die skrotum geplaas word met behulp van ՚n spesiale tang (Elastrator). Die lammers se skrotums kan ook afgesit word deur die chirurgiese metode, deur ’n skerp mes of skalpel te gebruik, waar die testes heeltemal verwyder word.
Wenke vir stertafsit en kastering:
Om die risiko’s van siektes te beperk moet hierdie operasies in skoon krale uitgevoer word. Probeer ook om nie sterte af te sit of om te kastreer tydens ongure weer nie, want dit kan tot vrektes lei. Hierdie operasies moet nie op lammers uitgevoer word wat nie 100% gesond is nie.
Moenie lammers met ՚n abnormaliteit in die skrotum of testes kastreer nie. Alle afgesnyde sterte of testikels moet begrawe word om die verspreiding van bakterieë te voorkom. Stertafsit en kastrering is ՚n traumatiese gebeurtenis by lammers, veral as dit geskied by lammers ouer as drie weke. Dit is belangrik dat sogende lammers in ՚n goeie kondisie is.
ProAgri is dankbaar dat ‘n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het. Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.