Wildboer-van-die-jaar-aangewys
Die wildboer-organisasie Wildlife Ranching Suid-Afrika (WRSA) se Wildboer van die jaar 2010 is Robert John Potter van Kwazulu Private Game Reserve. Hy het sy toekenning op die gala-aand van WRSA se jaarlikse seminaar ontvang.
Ander finaliste vir die Wildboer van die jaar-toekenning was Piet du Toit van Hoogebomen wat spesiale lof vir sy benadering tot en sukses met wildteling ontvang het, Ann van Dyk van De Wildt en Shingwedzi Wildlife Ranch, Hennie Barnard van Skietfontein en Nico Risseeuw van Tambotie Waters.
Die Naboomspruit studiegroep is aangewys as die studiegroep van die jaar, dr Buks Henning is vereer vir sy gereelde en waardevolle bydraes in die Wildlife Ranching tydskrif en die Presidentstoekenning het gegaan na Reinhardt Holtzhausen, voorheen bemarkingsbestuurder van WRSA en dr Kas Hamman van Cape Nature.
Die gasspreker by die seminaar was mnr John Spiers van Nieu-Seeland. Hy het die geskiedenis van wildsvleisproduksie in Nieu-Seeland en ook trofee stoetteling bespreek, met spesifieke verwysing na edelherte. Ander sprekers van die dag was dr Peter Oberem (Die potensiaal van wildsvleisproduksie in Suid-Afrika), mnr Johan Rabie (Siektevrye buffels in Suid-Afrika), mnr Michael ‘t Sas-Rolfes (CITES en die handel in renosterhoring), mnr Pelham Jones (WRSA Private Renostereienaarsvereniging), dr Carina Kleynhans (Wildsvleisvoorbereiding), dr Louis Greeff (Lesse van toepassing op wildsboerdery) en dr Johan Kriek (Die teel van seldsame spesies). Mnr Andrew Conroy het kortliks oor die 7e Internasionale Wildsboerdery Simposium gepraat, wat in Oktober vanjaar in Kimberley gehou sal word.
ʼn Beursfonds vir wildboerstudente is ook gestig.
WRSA hou op 15 April naby Rustenburg ‘n seminaar oor skaarswild met die tema: “Die ekonomiese volhoubaarheid van die skaarswild-bedryf in die toekoms”.
Dr Conrad Coetzer gaan by die geleentheid gesels oor wildvoeding, mnr Piet du Toit hanteer die tema: Winsgewendheid van die skaarswild-bedryf en ‘n ekonoom van Nedbank sal na die breër ekonomiese prentjie kyk. Die dag word afgesluit met ‘n paar plaasbesoeke. Die koste is R250 per persoon en besprekings kan deur WRSA se webwerf gedoen word.