Wie steel ons kabels?
Die Pietersburg Distrik Landbou-unie het skokkende inligting oor koperkabeldiefstal bekend gemaak. Mnr Fanie Grobbelaar, voorsitter van die Unie het sy kommer uitgespreek oor die uitwerking van die diefstal op landbouproduksie in die omgewing.
Van die skade wat boere in Februarie gely het, sluit in:
Dawid Malan – R 6 000 se kabel gesteel
Antonie Vercueil – R 15 000 se kabel gesteel
Dirk Korff – R10 000 se kabel gesteel
Jimmy van Zyl – R 10 000 se kabel gesteel
Adam Willemse – 70m spilpuntkabel ter waarde van R 10 000
Basie Jordaan – 250m spilpuntkabel ter waarde van R 17 000
Tony Nera – Kabel ter waarde van R 25 000 en later nog R10 000
Die inligting is verkry uit sake wat by die polisie aangemeld is.
Ondertussen sê mnr Grobbelaar dat hy kennis geneem het van sommige korttermynversekeraars wat nou weier om toerusting te verseker waar koperkabels gesteel kan word. Volgens daardie maatskappye is die risiko te hoog.
Hy sê: “Dit is die teken van die verval van die staat en die wetteloosheid wat in Suid Afrika losgelaat word. Die vraag kan gevra word of die boeregemeenskap nou ‘n ander keuse het as om self vir eie veiligheid verantwoordelikheid te neem? Daar moet nou ondersoek ingestel word of belastings weerhou kan word omdat die staat skynbaar nie in staat is om die probleem te bekamp of op te los nie.”
Boere vra ook of daar ‘n moontlikheid bestaan dat lede van die SAPD en selfs Eskom-kontrakteurs by kabeldiefstalsindikate betrokke kan wees. Die rede vir die afleiding is dat die voorvalle van diefstal ‘n patroon toon wat volg op die lees van elektrisiteitsmeters. Die sindikate verskuif klaarblyklik van gebied na gebied.
Mnr Grobbelaar het gesê dat daar nou drasties ‘n plan gemaak sal moet word om koperdiewe swaarder strawwe op te lê asook om die aankopers van gesteelde ware vas te vat. Diewe sal nie steel as daar nie ‘n afset vir die ware is nie. Hy sê die onvermoë van die SAPD om die aankopers vas te vat is werklik kommerwekkend, en in gevalle waar die polisie wel arrestasies uitvoer, faal die regstelsel vele kere om die skuldiges te laat boet.