Wie betaal?
Jare lank het ‘n bedelaar voor die koöperasie gesit en die jammerhartige boer het elke maand as hy sy goedjies kom koop vir die stomme man R20 gegee. Een maand begin die boer egter om net R15 gee. Die bedelaar is ‘n bietjie dikbek, maar aanvaar dit maar.
‘n Jaar later gee die boer net R10 en die bedelaar vererg hom: “Haai ou,” sê hy, “toe jy van R20 na R15 afgekom het was ek geduldig, maar nou gee jy net R10. Hoekom so min?”
“Ag ek is jammer Meneer,” antwoord die boer verleë. “Jy sien, my seun is verlede jaar technikon toe en dit kos my baie geld, sodat ek nie genoeg geld gehad het om jou elke keer R20 te gee nie. En nou is my dogter universiteit toe en dit kos nog meer geld…”
“Hoor hier, hoeveel kinders het jy?” vra die bedelaar.
“Daar is nog twee in die hoër skool en een in die laer skool,” antwoord die boer.
“Wel, ek hoop nie jy is van plan om hulle almal op mý koste te laat leer nie!”
Stuur jou grappie, pittige vertelling of snaakse foto gemerk Boerselag aan oppiestoep@mweb.co.za en staan ‘n kans om ‘n musiekpiering van Thys die Bosveldklong te wen.