Categories: NewsPublished On: 8th July 2010

Weska bied waarde

By 2 min read

’n Man met oor­vloedige rede om trots te wees op sy ramme is Boeta Wessels van die plaas Karsrivier naby Bredasdorp. Dit is immers nie aldag dat ’n man ’n wêreldrekordprys van R115 000 vir ’n ram behaal nie. Dit is die prys wat Weska Dohne se spogram, JW5.212, onlangs op die nasionale veiling in Bloemfontein behaal het.

Weska se ramme is op die veiling teen ’n gemiddelde prys van R45 400 ver­koop. Die goeie pryse word toegeskryf aan die diere se uitstekende BLUP-waardes.

Van hierdie selfde genetiese materiaal word nou eersdaags op die produksievei­ling op die plaas aangebied.

Karsrivier is al drie geslagte in die Wessels se hande en Boeta sê sy pa het in 1974 intensief met Dohne Merino’s begin stoet. Daar was nog altyd Merino’s ook op die plaas, maar toe Boeta en broer Kosie ernstig by die boerdery betrokke begin raak het, het hulle net die Dohne Merino’s behou.

Kosie is ook in beheer van die Ayrshire-melkery en die 3 000 kommersiële kudde ooie.

Die saaiery en die stoetskape is Boeta se babas. Benewens die stoetkudde met sy 4 000 ooie, is daar ook ’n kommersiële kudde van 3 000 ooie. Hulle loop op aangeplante weiding, maar in die herfstyd terwyl die Kaap wag vir sy reën, moet daar ook maar gevoer word.

Oor teelbeleid sê Boeta: “Ek hou van ’n grootraam-skaap met goeie vleiseienskappe en aanvaarbare wol.”  Hy meen dit is belangrik om goeie balans tussen wol en vleis te handhaaf en dat ’n mens nie ter wille van fyner wol al kleiner moet teel nie.

Weska Dohne’s bied vanjaar sy tweede produksieveiling aan. Dit het verlede jaar baie goed gegaan met die vei­ling en daar loop nou trotse Weska-gene op verskeie plek­ke in die Wes-Kaap, maar ook tot so ver as Oudts­hoorn, Caledon, Moorreesburg en selfs Fraserburg.

Vanjaar word daar 200 jong ooie en 120 ramme aangebied. Kopers kan ook verse­ker wees dat die aanbieding van die beste teelmateriaal is. 46 van die ramme is in die top tien persent van die huidige nasionale getoetste blupwaarde.

Volgens Boeta sal ernstige telers beslis waarde uit die veiling put, maar so ook kommersiële boere wat graag wil opteel.

Die veiling is om 11-uur op 17 Julie op die plaas Karsrivier, sowat 7 km buite Bredasdorp op die Swellendampad. Skakel Boeta Wessels vir meer inligting by 082-927-8320.

 

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment