Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar 2023 skop af
Tisha Steyn
Sewe kandidate uit vyf streke van die Wes-Kaap het op 23 Mei die geleentheid gehad om hulself aan die beoordelaars van vanjaar se Agri Wes-kaap/Santam Insurance se Jongboer van die Jaar 2023-voor te stel.
Tydens die geleentheid het die manne, wat almal tussen 30 en 38 jaar oud is, hulle bestuursfilosofie en tegniese vaardighede met ‘n paneel bestaande uit deskundiges uit verskeie vakgebiede gedeel.
Die beoordelaars sluit Inus Oosthuisen, ʼn vrugteboer van die Koue Bokkeveld, Sas Oosthuizen, ʼn vee- en pluimveeboer van Wellington, André Bloem, ‘n arbeidskenner, Pieter Plaatjies van Santam, die FNB-landbou-ekonome Arno Cloete en Andries van Zyl en Jannie Strydom, landbou-ekonoom en uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap in. Die paneel sal elke boer tussen 29 Mei en 1 Junie op sy plaas besoek.
Drie van die sewe kandidate boer in die Overberg, een die Koue Bokkeveld, een in die Swartland, een in die Boland en nog een in Hessequa.
Johan Swart (30) boer met kleingrane, insluitend gars, koring en hawer, asook kanola en wolskape naby Riviersonderend in die Overbergdistrik. Die belangrikste les wat hy sover uit boerdery geleer het is om tydens uitdagende tye aanpasbaar en innoverend te wees. Sy toekomsvisie is om die verskillende boerderyvertakkings op sy plaas uit te brei en optimaal te ontwikkel en terselfdertyd sy werksmag deurlopend te bemagtig.
Ricard Myburgh (31) boer met appels en pere naby Vyeboom in die Overbergdistrik. Hy wil graag een van die top vrugteboere in die land wees en om dit te bereik glo hy ‘n boer moet sy plaas deeglik ken en sy tydsberekening moet goed wees. Ricard is insetgedrewe en wil graag toenemend tegnologie gebruik om meer volhoubaar te boer.
Wimpie van Niekerk (32) is ‘n saaiboer naby Caledon. Hy is ook in die suiwelbedryf, boer met skape en produseer appels en pere. Hy glo daar is altyd iets nuuts om te leer en huiwer nie om kundiges se raad te vra sodat hy sy kennis kan verbreed nie. Hy glo Suid-Afrikaanse boere is vasbyters wat deurlopend planne moet beraam om vooruit te boer.
Christi van den Heever (38) boer met appels, pere, kersies, wingerd en beeste op die plaas Rietfontein in die Koue Bokkeveld. Hy streef daarna om mededingend te wees, winsgewend te boer en om markgunstige vrugte van die regte gehalte optimaal en volhoubaar te produseer. Hy wil sy boerdery voortdurend verbeter en aanpas by nuwe omstandighede.
Eben Schellink (30) het ‘n gemengde boerdery op die plaas Driefontein naby Malmesbury in die Swartland. Hy boer hoofsaaklik met koring, kanola en merino’s. Hy glo ‘n jong boer moet ook ‘n goeie besigheidsman wees wat verstaan dat ‘n onderneming volhoubaar moet wees. Hy moet ook die nodige deursettingsvermoë hê om sy beste te lewer ten einde die maksimum uitset te kry.
Johannes Erasmus (33) boer met wyndruiwe, sitrus, perskes en groente in die omgewing van Robertson in die Boland. Hy glo deursettingsvermoë, goeie beplanning, innovering en harde werk bepaal ‘n boer se sukses. Hy wil die plaas so ontwikkel dat die verskillende vertakkings mekaar aanvul en sy boerdery-onderneming so bedryf dat sy voorgeslagte op hom trots sou wees.
Pieter Janse Gildenhuys (35) bedryf ‘n gemengde boerdery by Heidelberg in die Hessequadistrik. Hy boer met merino’s, kleingraan, koring, gars, kanola en lusernweiding. Pieter glo Suid-Afrikaanse boere is van die beste ter wêreld en dat ʼn goeie boer gedrewe moet wees, maar nederig moet bly. Hy moet ook goed kan beplan, aanpasbaar wees en steeds, selfs in moeilike tye, bly hoop en glo.
Die top drie kandidate en die wenner sal tydens ʼn galageleentheid op 14 Junie in die Paarl aangekondig word.
Vir meer inligting, kontak Adéle Changuion by adele@awk.co.za