Só werk Scania se finansiering

scania 4
Een van die redes vir Scania se groei in Suid-Afrika is omdat die maatskappy ’n alles-onder-een-dak oplossing vir kliënte bied. Scania bied self finansiering aan met ’n pakket en betalingsreëlings wat rondom jou onderneming gebou word.
André van Eeden, verkoopsbestuurder, Scania Finansiering, sê hulle doen moeite om die aard van ’n klient se onderneming en bedryf te verstaan. Hulle is byvoorbeeld deeglik bewus van die seisoenale aard van boerdery en dat boere se kontantvloei vir sekere tye van die jaar onder groot druk kan wees. Terugbetalings kan so saamgestel word dat dit by die onderneming se siklusse inpas.
André sê hulle is ook deeglik bewus van gebeure in die land wat ondernemings kan beïnvloed, soos die onlangse droogte. “As een kliënt vir ons laat weet daar is ’n probleem, dan weet ons ook dat ’n ander kliënt in dieselfde omgewing/sektor geraak kan word en ons tree pro-aktief op om ons kliënte deur die tye by te staan.”
Die pro-aktiewe optrede behels dat die plaaslike Scania-verteenwoordiger met sy kliënte skakel en reëlings tref indien dit nodig sou wees. Die soort optrede beteken ook dat Scania Finansiering met ’n uiters goeie betalingsrekord op sy boeke sit.
Kies die regte skema
Scania Finansiering bied drie oorhoofse finansieringsopsies aan en André sê omdat hulle die aard van boerdery verstaan, kan hulle ook vir boere bystaan om die regte pakket te kies.
Die opsies is:
- Finansiële huurkoop: Die trok verskyn op die kliënt se balansstaat as ’n bate en las. Die kliënt kan die keuse uitoefen om teen die einde van termyn volledige eienaarskap te neem.
- Operasionele huurkoop: Die trok verskyn nie as ‘n bate of las op die kliënt se balansstaat nie. Net die paaiement word as ’n uitgawe weerspieël en daar vind nie eienaarskapoordrag plaas teen die einde van die termyn nie.
- Paaiementkoopooreenkoms: Soos met ’n finansiële huurkoop, word die trok op die kliënt se balansstaat geplaas en sodra die laaste paaiement betaal is, is hy ten volle eienaar van die trok.
Saam met die verskillende finansieringsopsies is daar ook versekeringspakkette beskikbaar. Soos met alle versekering, bepaal die risiko watter tipe en grootte versekeringspakket die beste sal wees. Ook hier kan Scania kliënte bystaan om die beste keuse vir hulle omstandighede te maak.
“Ons wil nie aan mense voorskryf wat hulle moet doen nie; ons wil eerder hulle situasie en onderneming verstaan om die beste aanbeveling te verskaf,” sê André.
Landbouvervoer is nie dieselfde as kontrakteurvervoer nie en boere se vragmotors lê gewoonlik minder kilometers per maand af as dié van kontrakteurs. Die implikasie is dat boere dit dikwels regkry om ’n vragmotor af te betaal voor dit tyd is om dit op ’n nuwe trok in te ruil. Volledige eienaarskap kan dus vir ’n boer belangrik wees, afhangende van die struktuur van sy onderneming.
Boere kan gerus ook met hulle plaaslike Scania-handelaars gesels oor die moontlikheid om net ’n vragmotor of twee te huur in die besige plant- of oestyd.
Scania se dienslewering is in alle opsigte net so goed soos hulle vragmotors. André sê: “Ons wil hê jou onderneming moet groei, want dan kan ons ook groei!”
Gesels met jou Scania-handelaar of kontak André van Eeden, verkoopsbestuurder, Scania Finance, by +27-87-286-6697, +27-71-440-1539, of andre.vaneeden@scania.co.za.