Wenk: ‘n Koele lafenis
Vandeesweek se wenk kom uit die Suid-Afrikaanse Boerderyjaarboek van 1925. Dit is ‘n resep vir
Lekker lemoenstroop
wat op die warm somersdae sommer vorentoe smaak:
Kook 3 bottels water (‘n bottel is 750 ml).
Laat nog op die vuur staan en roer 5 pond (2,268 kg) suiker in.
Sodra die suiker gesmelt het, roer 1 eetlepel wynsteensuur (tartaric acid) in.
Tel dit van die vuur af en as dit heeltemal koud is, roer dan 2 eetlepels lemoenessens by. Dit kan ook gekleur word. Wees net versigtig met die essens om dit nie in te roer solank as die stroop nog warm is nie, want dan verslaan dit.
‘n Boer maak ‘n plan en ‘n gawe boer deel daardie planne met ander sodat ons almal minder hoef te sukkel. Dieselfde geld die boerehuisvrou. Stuur jou plan of wenk, gemerk Boer-se-plan, aan oppiestoep@mweb.co.za en staan ‘n kans om die boek, Bone-renaissance, van Engela van Eyssen te wen. Huishouwenke is ook welkom. As jy ‘n landbou- of huishouverwante probleem het wat jou grys hare gee, stuur dit ook, dan kyk ons of ons by die kenners ‘n oplossing vir jou probleem kan kry.