Weidingshandboek – resensie
Daar is ’n rede waarom ’n boek wat in die vroeë negentigerjare verskyn het, steeds bygewerk en as handboek vir studente voorgeskryf word.
Die Weidingshandboek is ’n volledige handleiding oor weidingsgewasse en die benutting daarvan. Dit is nie ’n koffietafelboek met pragtige foto’s en ’n dramatiese uitleg nie, maar die inligting is netjies en duidelik uiteengesit sodat dit as ’n naslaanwerk gebruik kan word.
Die keurige taalgebruik sorg egter dat dit ook net gelees kan word deur belangstellendes. Die boek is in Afrikaans en Engels beskikbaar en die 2010 uitgawe is vergroot na A4 sodat die tabelle makliker gelees kan word.
Die Weidingshandboek se groot waarde lê in sy uitgebreide lys van grasse waarin nie net die grassoorte se voorkoms en voedingswaarde bespreek word nie, maar ook vestigingsmetodes, bemesting en produksiepotensiaal. Die resultate van proewe in verskillende streke en op verskillende stadia van die gras se groeityd word in tabelvorm weergegee.
Daar is ook praktiese riglyne oor grondvoorbereiding, bemesting, onkruidbeheer en besproeiing. Sonder om doekies om te draai, word die voordele en nadele van beweiding en hooimaak teen mekaar opgeweeg. Kuilvoer het ook sy hoofstuk met die nodige inligting oor gewasse, metodes om die gistingsproses aan te help en byvoegings.
As ’n bonus word al die inligting van toepassing gemaak op diere se voedingsbehoeftes. Daar word voorsiening gemaak vir kudde- en voervloeibeplanning, asook die identifisering van voedingsprobleme. ’n Groot voordeel van die Weidingshandboek is dat daar by elke hoofstuk ’n volledige verwysingslys na ander lektuur is.
Soos aan die begin gesê, daar is ’n rede waarom diehandboek na 20 jaar steeds bygewerk en gebruik word. Ditkan egter veral vir boere waardevol wees as nuwe inligting met betrekking tot weidingsbestuur, soos hoëdrukbeweiding, wat die afgelope paar jare na vore gekom het, ook bygewerk word. Bestel by kejafa@mweb.co.za of 011-025-4388 teen R330.