Weerprofeet-sê-reën-kan-volgende-week-in-die-binneland-val
Meneer Tonie Rossouw van die Bloemfonteinse-weerkantoor het gesê dat buie en donderbuie teen volgende week in sekere gebiede van die binneland kan voorkom. Hy het oor verwagte weerstoestande op die Landboukorrels program op Radio Pretoria gesels.
Hy het gesê daar is tans ‘n frontale-laagdrukstelsel in die oppervlak van die bolug wat suid van die Suid-kus in ‘n oostelike rigting beweeg. Daar is ook ‘n trog in die bolug wat onstabiele toestande gaan veroorsaak oor veral die Oos-Kaapse binneland en die suidwestelike en suidelike dele van Kwazulu-Natal, wat tot buie en donderbuie aanleiding kan gee aan die oostelike gedeelte van die stelsel.
Volgende week
Dit lyk asof ‘n hoogdrukstelsel agter die frontale-stelsel teen Maandag suid van die land gaan begin inbeweeg. Dit gaan tot ‘n aanlandige vloei van lug oor die Oos-kus en suid-oostelike kusstreke aanleiding gee wat die invloei van vogtige lug in Kwazulu-Natal en die Oos-Kaap se oostelike helfde gaan veroorsaak.
Met die invloei van vogtige lug en die buitengewone warm toestande wat verwag word oor die sentrale gedeelte van die land kan donderbuie begin ontwikkel oor die Oostelike-hoëveldstreke en gaan dit aanvanklik aan die begin van die week enkel wees, maar dan kry ons tog die ondersteuning van ‘n bolugtrog in die vorm van ‘n afny-laag uit die Kaapse-weskus teen middel volgende week.
Dit sal toestande skep wat meer gunstig is vir die ontwikkeling van donderstorms, ook oor die Vrystaat en noordwaarts maar dit sluit die westelike dele uit.
Ons verwag dus buie en donderbuie oor hierdie gebiede in die middel en tweede helfde van volgende week. Dit sluit Mpumalanga, Gauteng, Kwazulu-Natal, Lesotho en selfs die Oos-Kaap se oostelike binneland in.
Die reën sal sekerlik baie welkom wees vir boere wat graag wil begin plant.
Aan die begin van volgende naweek lyk dit of toestande steeds gunstig gaan wees vir die Oostelike-hoëveld streke van Mpumalanga en die Limpopo-provinsie wat dan weer teen die einde van die naweek sal opklaar waarna sonnige toestande in die grootste deel van die land sal voorkom.