Watertafellande: Omnia en boere reik na hoër opbrengs
’n Kosbare bate wat enige mielieboer opgewonde maak, is watertafellande. Dit is lande met diep grond bo ’n kleilaag wat water berg – en dit is presies die soort lande wat AC en Lorraine Botma van Viljoenskroon het.
Die grond bo die kleibank in die Botmas se lande is van 1,8 tot 2,5 meter diep, wat diep genoeg is sodat plante nie kan versuip nie, maar vlak genoeg sodat water met behulp van daardie einste kappilêre beweging waarvan ons in die skool geleer het, die wortels kan bereik.
Buitendien groei ’n mielieplant se wortels tot twee meter diep as dit nodig is.
Hierdie unieke grond is baie waardevol en dus ook baie duur. Daarom moet dit ten beste benut word om die meeste moontlike waarde daaruit te put. En dis by hierdie optimale benutting waar die boer se vennoot, Omnia, in die prentjie kom.
Omnia is die kunsmismaatskappy wat die wetenskap, Nutrilogie®, ontwikkel het waarvolgens optimale opbrengste verkry word deur die skep van ’n gunstige grondomgewing en noukeurige bestuur van elke fase van die gewas se lewensiklus.
Omnia belê jaarliks reusagtige bedrae in navorsing om sy kundigheid en diens immer tot die boer se voordeel te verbeter.
Boere weet dat jy, as jy enigsins kan, watertafellande vir ’n jaar moet laat oorlê sodat vog en voedingstowwe opgebou kan word om die volgende jaar die sekerheid van ’n goeie oes te verhoog.
Vanjaar het Omnia by verskeie boere proewe gedoen om te bepaal of meer bemesting op watertafellande ’n hoër produksie kan meebring wat ekonomies vir die boer sou wees.
Dit kan beskou word as ’n stap in die soeke na die goue balans tussen verhoogde insetkoste en verhoogde produksie, waarin die mielieprys natuurlik ook ’n rol speel.
Vir AC en Lorraine sou die hoër bemestingskoste vanjaar byvoorbeeld lonend wees, maar as die mielieprys laer was, kon die prentjie minder gunstig gewees het.
Waar AC normaalweg volgens sy grond se potensiaal 100 kg N (stikstof), 16 kg P (fosfor) en 8 kg K (kalium) per hektaar bemes, het hy in die proewe vir ’n opbrengs van 10 ton per hektaar bemes deur 150 kg N, 35 kg P en 11 kg K per hektaar op 20 hektaar toe te dien.
Die resultaat was ’n opbrengs van 10,5 ton per hektaar, en AC glo dat dit nog beter kon wees as die reën beter versprei was en as hy vroeër as 18 Desember geplant het.
Vir AC bewys die proewe dat ons nog nie die piekopbrengs met mielies behaal nie en dat bemesting op oorlêlande met vrug opgeskuif kan word omdat die potensiaal hoër is.
“Boer beter, nie wyer”
Dit strook met sy oortuiging dat ’n boer eerder opwaarts in die koers van beter benutting en hoër opbrengs behoort uit te brei as wyer in die koers van meer grond: “Ons moet eers ons opbrengs verbeter deur meer presies te boer voordat ons dit oorweeg om meer grond te bewerk.”
Maar dit beteken nie dat die boer nou sy lande onder kunsmis moet versmoor nie – dit bewys die resultate van soortgelyke proewe by Philip de Jongh van Koppies. Daar is die grondpotensiaal ook deur kartering bepaal en drie bemestingsvlakke is probeer: ’n kontrole, ’n baie hoë toediening vir 12 ton per hektaar en ’n toediening tussen die twee.
As gevolg van min reën en die feit dat die grond waarop die proef gedoen het wissel van goeie Avalon tot Coega wat glad nie vir oorlê geskik is nie, het die middewegbemesting die beste presteer, maar nie een van die toedienings het die 12 ton paal gehaal nie. Die opbrengs was:
Hoë toediening: 5,7 ton/ha
Middeweg: 7,8 ton/ha
Kontrole: 4,2 ton/ha
Volgens Philip was die reën so min dat daar waarskynlik geen oes sou gewees het as die lande nie voor die proef ’n jaar oorgelê het nie. Dit onderstreep sy siening dat ons eintlik met water boer; nie met mielies nie.
Volgens Kobus van Zyl gaan Omnia voort met proewe om nog meer inligting in te win oor opbrengsvermeerdering op watertafellande, maar in hierdie stadium is die volgende lesse reeds geleer:
- Watertafellande moet oorlê om die meeste waarde daaruit te put.
- Grondkartering moet gedoen word om die opbrengspotensiaal te bepaal.
- Die waterinhoud van die grond moet voor planttyd met ’n neutronvogmeter bepaal word.
- Die mielies moet vroeg genoeg geplant word.
- Die ekonomiese wisselwerking tussen die hoër koste van meer kunsmis, hoër opbrengs en die mielieprys moet fyn dopgehou word.
- Lande wat nie die waterbergingsvermoë van watertafellande het nie, is geheel en al van reën afhanklik en daarom is hoër bemesting op sodanige lande ’n groter risiko.
Praat met Omnia
Maar die belangrikste beginsel is seker dat die boer moet onthou dat hy nie alleen staan nie: Omnia se kundiges en navorsing is tot sy beskikking om hom elke tree van die pad te ondersteun sodat hy die hoogste opbrengs teen die laagste insetkoste kan bereik.
Dit is die ondervinding van AC Botma wat nou reeds jare lank ’n sakeverbintenis met Omnia het: “Omnia en Kobus van Zyl het my nog altyd die regte raad gegee en daar is geen rede hoekom ek elders moet aanklop nie. Omnia loop saam met die boer.”
Philip de Jongh ondersteun hierdie siening: “Omnia se verteenwoordiger en landboukundige kom gereeld plaas toe. Hulle stel regtig belang en hulle is baie kundig en behulpsaam. Omnia staan voluit agter die boer en die inisiatief van hierdie proewe kan groter raak om boere meer te laat oes.”
Vir meer inligting oor Omnia se diens aan die boer, skakel Kobus van Zyl by 083-633-9540.