Categories: NewsPublished On: 8th February 2011

Water-dalk-ook-in-rooivleis?

By 1 min read

Die Rooivleisprodusente-organisasie het die aankondiging dat die Departement van Landbou regulasies gaan instel om die inspuit van pekelwater in hoendervleis te reguleer, verwelkom.

Die organisasie sê in ‘n verklaring: “Die rooivleisbedryf kan nie doeltreffend meeding met mededingende produkte waar die vogverlies tot so hoog as 46% is nie.”  Dit volg op navorsing wat gedoen is oor gewigsverlies by bevrore hoender sodra dit gaargemaak word. 

Die RPO verwelkom ook die versoek dat alle vleis ondersoek moet word. Die Uitvoerende Raad van die RPO het reeds gedurende sy Januarie-vergadering versoek dat omvattende navorsing in die rooivleisbedryf gedoen moet word om te bepaal of dié tegnieke enige waarde toevoeg tot die produk, indien dit op lae vlakke gedoen word. Die Uitvoerende Raad van die RPO is van mening dat die Rooivleisbedryf homself pro-aktief moet reguleer in hierdie verband.
 
Mnr Lardus van Zyl, voorsitter van die Nasionale RPO het aan ProAgri gesê die inspuit van pekelwater in rooivleis kom nie algemeen voor nie, aangesien feitlik alle rooivleis vars verkoop word en nie gevries word nie. Hy het bygevoeg: “Ek wil egter nie sê dat dit glad nie in sommige slaghuise gebeur nie. Dit is waarom daar nou ‘n besluit geneem moet word of dit toelaatbaar is of nie.”
 
Die RPO gaan ‘n versoek rig om verteenwoordig te wees op die komitee wat die Departement van Landbou in die vooruitsig stel om die inspuitvlakke van vleis te reguleer.
 
Ondertussen kom daar nog geen piep uit die pluimveevereniging nie. ProAgri se navrae in die verband is na die hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging verwys, wat nie vandag op kantoor is nie.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0