Wat is nou eintlik die loon?
Agri SA sê die aangekondigde minimum loon vir plaaswerkers saai verwarring. Die organisasie het die Minister van Arbeid, Mildrid Oliphant, versoek om die minimum loon-element van die sektorale vasstelling na die Kommissie vir Diensvoorwaardes terug te verwys vir herevaluering.
Die grondslag van die berekeninge word betwyfel en daar is ‘n klaarblyklike fout met die aangekondigde weeklikse minimum loon.
“Die Minister van Arbeid het op 18 Januarie 2012 die nuutste aanpassings van die minimum loon vir plaaswerkers vir die volgende drie jaar aangekondig. Wat verwarring saai, is dat wesentlik afgewyk word van die formule wat in die vorige drie jaar van toepassing was asook dat die aangekondigde weeklikse loon, volgens die Departement van Arbeid, foutief is,” het Johannes Möller, President van Agri SA, gesê.
“Volgens die aankondiging is die laagste kwartiel van die VPI gebruik vir die berekening van die minimum maandloon, plus ‘n addisionele 1,5 persentasiepunte, wat na die mening van Agri SA, ‘n dubbele kompensasie vir voedselinflasie verteenwoordig. In die verlede is ‘n addisionele 1 persentasiepunt vir voedselinflasie bygevoeg. Die verhoging is verder gebaseer op die Oktober 2011 VPI-inligting terwyl dit in die verlede op November-inligting gebaseer was. Die gevolg hiervan is dat die maandelikse minimum loon met 9,3% vanaf 1 Maart 2012 van R1375,94 tot R1503,90 verhoog.
Die weeklikse loon behoort van R317,51 tot R347,10 te verhoog, en nie tot R374,10 soos in die Staatskoerant gepubliseer is nie. Die Departement van Arbeid is op die fout gewys en het onderneem om ‘n regstelling te publiseer,” het mnr Möller verder gesê.
Hy het voorts ook daarop gewys dat ‘n werkgewer ‘n maksimum van 10% vir onderskeidelik vir kos en behuising mag aftrek indien daar aan sekere voorwaardes voldoen word. Boere word versoek om hulle van die voorwaardes van die bepalings van die sektorale vasstelling 13 te vergewis en nie mislei te word deur ander advies wat verkry word nie. Hy het verder boere versoek om gehoor te gee aan die verhogings en werkers ten minste op die minimum loonvlak te vergoed.