Wat-eet-skape-in-die-winter?
Die Hoëveld is op sy beste maar redelik vaal en droog in die winter, so wat is die beste voeding wat ek vir my skape kan gee om my boerdery steeds ekonomies te maak?
Dit is die soort vrae wat ons hoop om te antwoord op die tiende Landboukorrels Boeredag wat gesamentlik deur Radio Pretoria en TLU SA op die Cullinan Boere-unieterrein aangebied word. Op Vrydag 29 Oktober word daar ‘n volledige kleinvee-kursus aangebied waar onderwerpe soos gesondheid, voeding, die keuse van ‘n skaapras, melkbok- en boerbokboerdery toegelig gaan word. Daar sal ook ‘n praktiese demonstasie oor die hantering van skape wees met genoeg oefentyd. Dit is moontlik om selfs daardie reuse Ile de France-ram te vang en te doseer sonder trauma vir skaap of boer!
Die koste van die kursus is R100 per persoon en dit sluit koffie/tee en ‘n middagete in. Inskrywings sluit op 22 Oktober.
Op Saterdag 30 Oktober is daar ‘n heerlike pretdag met landboudemonstrasies, vermaak, stalletjies, ossewaritte en boeresport. ‘n Veiling van hoofsaaklik kommersiële vee word ook deur BKB aangebied. Boere wat diere het om aan te bied, moet asseblief voor die einde van September met Henri Combrink skakel by 082 552 9428.
Vir die eerste keer word daar ook ‘n huisvlytwedstryd in samewerking met die Vroue Landbou-unie aangebied. Van die kategorieë waarin meegeding kan word, is gebak, gebottelde produkte, naaldwerk en hekelwerk. Vir inskrywingsvorms met volledige besonderhede kan Lynette by TLU SA geskakel word.
Die Landboukorrels Boeredag is ook die amptelike afskop van die jaarlikse Goliat van Gat Pampoenkweekwedstryd. Alles wat nodig is om daardie bielie van alle bielies te kweek, sal daar wees!
Moenie hierdie jaar se Landboukorrels Boeredag misloop nie. Dit is uit die gemeenskap vir die gemeenskap. Onthou Vrydag 29 en Saterdag 30 Oktober by die Cullinan Landbou-unieterrein (3,5km oos van die Cullinan-vierstop op die Bronkhorstspruitpad).
Vir enige navrae skakel Lynette by 012 804 8031 of Annemarie by 012 543 0120.